4 maande gelede
Hou jou Rekening vol seëninge
Foto:  ~ 

EFESIËRS 1:3 – Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus.

Hy jy al ooit by ’n OTM gekom en die volgende kennisgewing gekry: Onvoldoende fondse.

Jy het dalk jou daaglikse limiet bereik of jy’t onverrekende fondse wat nog nie beskikbaar is nie.

Kom ons vat dit stap vir stap. Onvoldoende fondse: Dit beteken die hele bedrag wat jy aanvra, is nie in jou rekening beskikbaar nie. Soms is daar geld, maar dis te min. Jy moet die bedrag dus verander. Ander kere is daar geen geld nie.

Dit frustreer jou soms omdat jy weet daar was genoeg geld in jou bank. Jy het dalk vergeet van die bankkoste, debietorders of fooie oor jy by ander banke trek. Jy was nooit bewus daarvan nie.

So gebeur dit ook in ons geeste­like lewe. Omdat ons nie weet wat in ons eie lewe aangaan nie, onttrek die lewe baie uit ons. Ons is vasgevang in die verlede, toekoms of die onbenullighede van die lewe.

Ons besef nie hoe emosionele onttrekkings ons lewe tap nie. As ons dit regtig nodig het, is daar onvoldoende emosionele fondse.

Ons bid, loop kerk en vra onsself dan: Waarom, Here? Waarom?

Raak vandag bewus van onttrekkings uit jou lewe.

Tweedens oorskry jy jou daaglikse limiet ... Ek vat elke dag soveel dinge op my: Probleme van ander, maak skuld, maak beloftes aan mense, myself, en so meer. Ons word emosioneel uitgebrand omdat ons meer wil doen as wat ons kan.

Dit word baie veroorsaak deur ’n emosionele skuldgevoel. Hulle het dit vir my gedoen, en ek kan nie teleurstel nie. Raak bewus van wat jy kan dra en doen sodat jy nie jou daaglikse emosionele limiet oorskry nie.

Derdens: Fondse nie beskikbaar nie. Jou seëninge is daar, maar dis nog nie beskikbaar vir gebruik nie.

God het elkeen geseën met seëninge vir ’n spesifieke tyd en doel. Ons raak versteurd as ander hul seëninge beleef, maar nie ons nie.

Ons vra ons af: Is ons dan nie geseën nie? Efesiërs 1:3 sê ons is reeds met alle Hemelse seëninge geseën. Berus jou dus daarin dat die seëninge daar is en op die regte tyd beskikbaar sal wees.

Hoe langer geld in die bank is, hoe groter is die rente. Hoe langer die seëninge in jou is, hoe groter is die uitkoms.

Laastens: Watter tipe geld is in jou bank? Geldeenhede verskil – die dollar, pond, euro en rand het verkillende waardes.

Watter emosionele waarde dra jy in jou? Liefde gebaseer op hoe ander jou hanteer, of onvoorwaardelike liefde? Albei is liefde, maar die waarde verskil. Onvoorwaardelike liefde is onskatbaar, maar uiterlike liefde is van korte duur.

Jy kan net onttrek as jy dit in jou bank het. Wat het jy in jou bank? Jou Skepper seën jou met alle hemelse seëninge. Word vandag bewus, en doen jou keuse.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters