4 jaar gelede
God vereis geloof inruil vir sy ingryping
Foto:  ~ 

SO ’N mens wat altyd aan die twyfel is en onbestendig is in al sy doen en late, moet nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie. – Jakobus 1:7–8

Wat God hier deur Jakobus sê, is wanneer jy Hom iets vra en jy glo met jou hele wese, sal Hy jou gebede verhoor.

Ek het dit self verlede jaar ervaar toe ek op die Here vertrou het om vir my ’n weg te baan en my ’n uitkoms te bied – en Hy hét.

Jou woorde is kragtig. Wat spreek jy die atmosfeer in? Ek wil verklaar dat jou vloeke in seëninge kan verander en jou toekoms kan beïnvloed en dit mooi maak.

Jesus sê vir sy volgelinge as hulle vir ’n berg sê dié moet ontwortel en in die see stort (Matt. 21:21), sal dit gebeur as hulle nie twyfel nie, maar rotsvas glo.

Dit verg vaste geloof om getrou te wees en nie te twyfel nie.

Ek wou bitter graag oorsee gaan en het dié begeerte aan die Here opgedra. Van my vriende was skepties, maar ek het vir hulle gesê ek glo God sal die geleentheid skep – en Hy hét, want Hy kom sy Woord na.

Is jy of iemand na aan jou siek, werkloos of diep in die skuld? Vertrou net op die Here; Hy sal ingryp en uitkoms bied.

Geloof is die vaste vertroue dat ons sal kry waarvoor ons hoop, al kan ons nie sien hoe nie (2 Kor. 5:7; Heb. 11:1).

Om jou op ’n belofte van God te verlaat, vereis dat jy moet bly glo, al knaag twyfel aan jou omdat jy moeg gewag en ontnugter is met jou omstandighede.

Nee, bly glo, want om in weerwil van ongeduld en terugslae te bly glo, is ware geloof – en die sleutel tot baie deure.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters