3 jaar gelede
God se woord bring lig, hou vas aan belofte
 ~ 

2 Samuel 9:3: “Is daar nie miskien iemand uit Saul se familie oor nie?” wou die koning weet. “Ek wil hom ’n besondere guns bewys.”

“Daar is nog ’n kreupel seun van Jonatan,” was Siba se antwoord aan die koning.

Siba gee te kenne daar is nog een van Jonathan se seuns oor en dat hy verlam is in sy bene en dat sy naam Mefiboset is. Siba noem eers hierdie jong man se gebrek voordat hy sy naam noem.

Mense is geneig om jou gebrek eers te noem voordat hulle jou naam noem. My en jou verlede is vandag ons getuienis. Ek ervaar dit vandag nog dat mense 20 jaar terug toe ek in ballingskap was, voor oë hou.

Vandag rus God se onbaatsugtige guns op my lewe. Ek kan vandag getuig dat God van niks iets maak. Van ’n bergie na ’n sakeman – moenie opgee nie, die beste is op pad. Mefiboset se naam is baie moeilik om uit te spreek, maar terwyl ek deur die Skrif lees, besef ek die jong man se lewe was nog moeiliker en deurmekaar.

Mefiboset se oupa Saul was koning oor Israel, sy pa Jonatan ’n prins. Mefiboset moes sy pa as prins opvolg. Terwyl die oorlog op sy hewigste is, tel Mefiboset se oppasser hom op en laat hom in die proses val en hy word verlam in sy bene. Sy gebrek laat hom in Lo-debar beland. Lo-debar is ’n Hebreeuse woord wat “Plek van geen kommunikasie” beteken.

Die duiwel is ’n leuenaar en hy wil ons stil maak. Die Bybel verklaar dat hy ’n moordenaar is.

God belowe in Jeremia 29: 11: “Want Ek weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die Here.

“Gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ’n hoopvolle toekoms te gee.”

Ons toekoms is in God se hande en Hy hou sy belofte. Ek was ook in ’n plek van geen kommunikasie nie, ’n plek van depressie. Dit het vir my voorgekom of daar geen hoop is en niemand vir my omgee nie.

Ek wil u bemoedig: Hou vas aan God se belofte. My verlede was donker. God se Woord het lig gebring in my donker verlede en Hy is steeds die lig in my lewe vandag! God hou van mense met ’n donker verlede en wat gebroke is. Hy is die perfekte timmerman en herstel die gebrokenes.

Ek verklaar God se guns vandag oor u lewe en dat u die kop sal wees en nie die stert nie. Psalm 23:6 lui: “Net goedheid en guns sal u volg al die dae van u lewe.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
2 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters