3 jaar gelede
God se versoening maak waarlik vry
 ~ 

EN DIT alles is uit God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus en ons die bediening van die versoening gegee het, naamlik dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle hul misdade nie toe te reken nie en die woord van die versoening aan ons toe te vertrou. ~ 2 Korintiërs 5:18–19.

God het die mens volmaak geskep, maar die mens het homself van God vervreem.

Daarmee het hy sy volmaakte karakter prysgegee en al hoe verder van God gedryf, en so ook van die ideaal wat God vir hom gehad het.

Omdat die mens God verloor het, het hy ook sy medemens verloor.

Deur disharmonie en ongehoorsaamheid is die kloof tussen die Skepper en die skepsel vergroot.

Vanselfsprekend het daar ook groot verwydering tussen mense gekom en brutale geweld tussen mens en mens het opgevlam.

God was egter vasbeslote om die verhouding tussen Hom en die mens te herstel.

In versoening moet daar altyd iemand wees wat die inisiatief neem.

God se begeerte was dat sy liefde, krag, blydskap, vrede en gemoedsrus ondervind sou word deur almal wat sy gawe van versoening wou ontvang.

Slegs dan sou daar ook sprake wees van versoening tussen mens en mens.

Om aan die mens te toon wat hy kan word, het God homself in Jesus Christus as die Groot Versoener ­geopenbaar.

Christus was God se ideale mens.

Deur Hom sou God almal van sonde verlos en versoening bring.

Deur te glo en jouself volkome oor te gee aan Christus, sal sy verlossende liefde en krag jou en my lewe verander sodat ons al hoe meer aan Hom gelykvormig kan word.

Nader jou tot God en Hy sal Hom tot jou nader.

Ons leef in ’n tyd waarin ons die Here meer nodig het as ooit vantevore!

Kom ons gee onsself oor en vertrou ons lewens ­opnuut toe in die hande van ons Skepper.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters