2 jaar gelede
God is Ál een wat ware rus en vernuwing bring
 ~ 

Matteus 11:28 sê: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.”

Ons ervaar almal die een of ander tyd ’n geestelike droogte in ons lewe, net soos ons nou in die land droogte ervaar en tot die Here bid vir reën.

Daar kan baie redes hiervoor wees, maar die een saak waaroor ons almal saamstem, is dat ons nie van droogte hou nie.

Ons eie oplossing is dikwels om baie goeie voornemens te maak.

Ons maak planne, gaan gym toe, volg ’n dieet, stel ’n klomp geestelike doelwitte soos om meer gereeld kerk toe te gaan, meer Bybel te lees, by ’n groep in te skakel, ensovoorts.

Dit kan dalk vir ’n rukkie werk, maar kort voor lank besef ons dat daar weer ’n klomp ou gewoontes ingekruip het. Al die besluite wat ons geneem en pogings wat ons aangewend het, help net ’n rukkie.

Ná die eerste paar maande van die jaar is die gym en die kerk weer halfvol. Nou wat moet ons doen . . ? Net mooi niks!

Paulus leer ons in Romeine 3 dat ons van nature so geneig is tot die kwaad dat selfs ons beste pogings om ons lewens te herstel, gedoem is.

Die skrywer Hennie Arnolds het gesê: “Solank as ons dink ons kan onsself red, maak ons ’n fout.”

Hoe harder jy self probeer, hoe sterker maak jy die bose in jou. Daar is maar een uitweg.

Ware rus en vernuwing is alleen in Christus. Ons leef in ’n tyd van soveel onsekerheid, maar die kind van God hoef nie te twyfel nie, want ons vertroue is in die Here.

Ons vrees nie in slegte tye nie, want ons weet God sal nie sy kinders verlaat nie.

Wat moet ons doen vir geestelike vernuwing? Moet ons nou weer ’n wilde besluit neem soos met ons Nuwejaarsvoorneme?

Nie heeltemal nie. As ons volhoubare geestelike vernuwing begeer, moet ons God toelaat om self ons lewe op sy manier te vernuwe.

Hoe laat ek Hom toe? Deur jou hart en lewe vir God oop te maak sodat Hy dit kan vernuwe.

Ons doen dit deur geestelike dissiplines of nuwe geloofsgewoontes aan te leer. Deur ’n nuwe leefwyse maak ons die deur van ons hart vir God oop om ons te verander soos Hy wil.

Geestelike dissiplines is nie net nuwe wette nie, dit is ’n lewenstyl in die teenwoordigheid van God.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters