Verlede jaar
Fokus op Jesus en aanskou die goeie
 ~ 

LUKAS 23: 34: Toe sê Jesus: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!” Hulle het sy klere verdeel deur te loot.

Geskop, geval, geslaan, vervloek, bespot, en nog vele meer. Dít is wat aan Jesus gedoen is.

Hoe kon hy sê: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!”? Dit is onmoontlik!

Was hulle blind of iets? Kon nie wees nie.

Hulle het presies geweet wat hulle doen. Dit is miskien ons eerste woorde. Hoe kan jy sê ek moet vergewe – hulle het dan geweet?

Hulle is geleerd of groot.

Wat Jesus geweet het: Hoe hulle die lewe sien en ervaar, is al wat hulle weet.

Hulle het gedink wat hulle doen, is reg. Wie is hierdie persoon wat kom sê hy is die Seun van God?

Dis godslastering. So, in hul denkwyse was hulle reg.

Hulle het ’n ander koning verwag, soos ’n Dawid wat op ’n troon gaan sit.

Omdat hulle nie oop was vir leer nie, en vasgehou het aan die verlede, kon hulle nie die koning tussen hulle sien nie.

Baie van ons is vasgevang in ’n gedagte van die verlede. Dinge gebeur om ons, maar ons kan dit nie sien nie.

Dit is nie omdat ons dit nie wíl sien, maar ons kán dit nie sien nie. Ons gedagtes laat ons nie toe nie

Die Woord sê om te kan groei, moet ons ons gedagtes verander.

Dink hieraan: Jy koop ’n paar skoene. Môre sien jy nog iemand met so paar.

Waar kom dit vandaan? Het almal nou vir hulle gaan koop? Nee, glad nie!

Dit was heeltyd daar, maar jou fokus was nie daarop nie. Met ander woorde, vandat jy jou fokus begin verander het na die nuwe paar skoene, sien jy nou nog van dieselfde soort.

So is die lewe rondom ons: Waarop ons fokus, is wat ons sien. Ons wêreld is gebaseer op waarop ons fokus.

Fokus op pyn, en jy sien pyn, fokus op liefde, en jy sien liefde. Hoe meer jy vandag fokus op Jesus, hoe meer sal jy soos hy word.

Jy sal kan beweeg, spreek, en dinge ervaar soos hy.

Hy belowe ons in sy Woord: “Groter dinge sal julle doen as wat ek gedoen het.”

Verander vandag jou denkwyse na wat edel, rein, en mooi is om die goeie te kan aanskou. Shalom.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters