3 jaar gelede
Elke mens se dood word vooraf deur god bepaal
Foto:  ~ 

Psalm 116: 15: “Vir die Here is die dood van sy troue dienaars geen geringe saak nie.”

Liewe leser, die Woord van God maak dit kristalhelder en laat geen onsekerheid daaroor nie: Elkeen het ’n bestemde dag om te sterwe.

Dit is vir die mens bestem om een keer te sterwe en daarna die oordeel te face.

Ons weet nie hoe en wanneer nie. Ons woon soveel begrafnisse van familie, vriende en ander geliefdes by en eendag, dalk binnekort, is dit ons beurt.

Selfs Freddie Mercury, die voorsanger van die befaamde groep Queen, het ’n lied gesing waarin hy die vraag vra: Wie wil vir ewig lewe?

So, ons sal dus saamstem dat ons elkeen ’n afspraak met die dood en sy verskrikking het.

Vanuit ’n Christelike perspektief is die dood volgens die apostel Paulus ’n heerlike en aangename belewenis waardeur ons elkeen individueel sal gaan.

Hy stel dit so dat die lewe vir hom Christus is en die dood ’n wins is.

Dit is swaar om aan die dood te dink as ’n wins. Maar weet u, die dood bring lewe, die ewige lewe vir die kind van God.

Die eienaardige ding van die gedagte dat die dood lewe bring, lê daarin dat ons elkeen, terwyl ons nog lewe, moet sterwe.

As Christen-gelowiges is dit ’n imperatief van God dat ons moet sterwe terwyl ons lewe om sodoende die ewige lewe te ontvang.

Die dood is vir God geen geringe saak nie. Die dood van sy troue dienaars is ’n groot saak, want ná die dood lê daar die ewige saligheid voor vir die kind van God.

2 Korinthiërs 5:17 stel dit dat wanneer ons in Christus is, ons ’n nuwe skepsel is. Die oue het verby gegaan en alles het nuut geword.

Ons sterwe terwyl ons lewe en staan op uit die vodde van ons doodsbestaan op aarde, geklee in die geregtigheid van God.

Ons leef nou saam met Christus, want ons het ook saam met Hom ‘gesterf’ en sal dus ook die ewige lewe ontvang.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters