2 jaar gelede
Eer God, en hy stoot berge voor jou plat
 ~ 

Psalm 121:1-2 “Ek slaan my oë op na die berge. Waar sal my hulp vandaan kom? My hulp is van die Here wat hemel en aarde gemaak het.”

Terwyl ek voor my geestesoog sien hoe Dawid een môre opstaan en na die berge staar, sien ek hoe baie mense dit daagliks beleef. En die berge waarvan ek praat, is nie natuurlike berge nie.

Dit is berge van probleme wat mense daagliks in die gesig staar. Maar ek ken ’n stootskraper, naamlik Jesus, wat elke berg voor jou aangesig kan platstoot as jy Hom eer.

Voor watter berge van probleme kom jy elke dag te staan?

  • Berg van omstandighede

Omstandighede is iets wat elkeen elke dag in die gesig staar en dit verskil van mens tot mens. Omstandighede het ’n manier om ons nader aan God te bring, maar moenie dat omstandighede jou dryfkrag na God wees nie. Die werklikheid van hemel en hel moet ons dryfkrag wees, die begeerte om hemel toe te gaan.

Moenie dat jou omstandighede bepaal wie en wat jy is nie. Jy hoef nie als te hê wat jou hart begeer nie, maar jy kan steeds ’n sukses maak met wat jy het.

  • Berg van finansiële druk

Finansiële druk veroorsaak seker die meeste stres. Huishoudings met selfs twee broodwinners is besig om die sente te tel. Hoe moeilik moet dit nie vir enkelouers wees nie? Jy het vir jou en jou gesin ’n sekere standaard gestel waarop julle lewe, en noudat dit moeilik gaan, is daar baie probleme.

Kinders verstaan nie hoekom hulle nie meer na sekere ontspanningsplekke kan gaan nie. As ouer weet jy nie meer wat om as verskoning te gebruik vir die kinders nie.

Jy het nie nodig om aan verskonings te dink nie – dink aan God. Vra God om vir jou deur te kom en jou die wysheid te gee hoe om weer op daardie standaard te lewe.

As kind van God kan jy begeer net wat jy wil en as God sien jy is gereed om dit te ontvang, dan sal Hy dit aan jou gee. Somtyds neem Hy dit weg om jou daarvan bewus te maak dat jy ’n bietjie nader aan Hom moet beweeg.

  • Berg van groepsdruk

Groepsdruk is die manipulasie deur ander mense, veral jou maats, om jou iets te laat doen wat jy self nie noodwendig wil doen nie. Groepsdruk is enige gedrag wat deur maats afgedwing word en veroorsaak dat iemand sy maats se negatiewe gedrag of waardes naboots. Onskuldige jongmense lê stukkend daar buite weens groepsdruk. Dit is egter belangrik dat jy jou vriende reg kies en nie deur hulle geïntimideer word nie. Jy het nie nodig om dinge te doen om by ander in te pas nie. Die maklikste manier om slegte groepsdruk te hanteer, is om dit heeltemal te vermy. Omring jou met vriende met waardes en belangstellings soos joune. Dan is die kans dat jy slegte groepsdruk sal ervaar, baie kleiner.

Daar is baie ander berge wat ek kan noem wat mense daagliks in die gesig staar. Maar die gedagte wat ek aan jou wil deurgee, is God is die stootskraper wat elke berg voor jou aangesig kan platstoot. Dit Maak nie saak hoe groot of klein daardie berg is nie, God sal dit vir jou platstoot.

Dit is nie nodig om daardie berg uit te klim nie, God wil voor jou uitbeweeg en elke hoogte gelykmaak. Die mense wat nie bekeer is nie, moet egter die berge wat voor hulle staan, uitklim, maar God is genadig en steek sy Hand ook uit na hulle. Jy wat bekeer is en God eer, jy het nie nodig om daardie berg uit te klim nie. God wil dit vir jou platstoot.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
3 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters