2 jaar gelede
Die Here is ook jóú herder vir altyd
Foto:  ~ 

PSALM 23 – Dawid skryf: “Die Here is my Herder. Niks sal my ontbreek nie.” Dan gaan Psalm 43:5 verder en vra die vraag aan homself: “Wat buig jy jou neer, o my siel, en wat is jy so onrustig in my? Hoop op God, want ek sal Hom nog loof.”

Dawid bevind hom in die veld op ’n plek van droogte, maar verklaar tóg dat die Here sy herder is.

Ons as mens bevind ons elke dag op verskillende plekke. Sommige van ons is nou in ons droogte, ander kom uit ’n droogte en sommige is op pad na droogte.

Dawid neem ’n besluit dat alles wat hy deurgemaak het, agter hom is. Hy strek hom uit na nuwe dinge.

Wat hou jou nog vas? Wat laat jou nog neerbuig en moedeloos voel?

Wees soos ’n Dawid en staan op. Verklaar vandag die Here is nog jou Herder.

Al is daar nou niks, die Here is steeds jou Herder.

Al voel jy nie so wel nie, die Here is steeds jou Herder. God is met jou.

Die lewe het ’n manier om ’n mens te laat terugsit en terugdink, maar vandag is jou dag om weer te besef dat God met jou is.

Dawid sê die ding waardeur ’n mens soos ek nou gaan, sal nie maak dat ek vergeet wie Jesus vir my is nie.

Die Skrif gaan verder in Psalm 46:2: “God is vir ons ’n toevlug en sterkte as hulp.” In benoudhede is Hy daar al word jy hoe beproef.

God wil hom openbaar in jou benoudheid. Weet vandag dat jy tot alles in staat is deur Jesus Christus wat jou die krag gee. Staan op soos Dawid en verklaar dat Jesus jou Herder is.

Dawid word gelig van die veld na die paleis. Jesus weet wat jy deurmaak, maar Hy gee ons die versekering Hy is altyd met ons.

Dawid sê dat ek deur die dal van doodskaduwee sal gaan, want ek is daarvan verseker dat Jesus met my is.

Ek weet nie waardeur jy gaan nie, maar mag Dawid se God nou vir jou deurkom. Mag jy weet daar is hoop.

Liefde en vrede vir jou!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
2 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters