2 jaar gelede
Christus sterf aan ’n kruis vir ons sondes
 ~ 

JOHANNES 19:30: “Nadat Jesus die suur wyn gekry het, het Hy gesê: ‘Dit is volbring!’ Toe het Hy sy kop vooroor laat sak en die laaste asem uitgeblaas.

Volgende naweek is Paasnaweek. Dan herdenk ons Christus se dood en opstanding.

Nadat Jesus alles op sy skouers geneem het – die kruisiging, marteling, vernedering en pyn vir my en u oortredinge – sê Jesus dit is volbring!

Jesus is op ’n Vrydag gekruisig – ’n donker Vrydag, ’n donker dag in die lewe van Christene.

Dit was op daardie Vrydag dat Satan gedink het hy het oorwin, maar Satan het vergeet, God is die opstanding en die lewe!

Toe dit lyk asof ons ons weë verloor, het Jesus Christus vir ons sondes kom sterf.

Die kruis het die prys betaal; die kruis staan vandag vir ons as getuie dat al die ou dinge verbygegaan en alles nuut geword het!

Met spykers in sy hande en sy voete, met ’n doringkroon op sy hoof, hang Hy daar sonder om een keer te kla!

Ons moet nooit vergeet wat Jesus opgegee het vir ons nie.

Dit kon vandag so anders gewees het, maar die genade van die Here is genoeg!

Jesus het nie gekom vir mense wat kerk loop en diegene wat verklaar dat hulle gered is deur sy bloed nie, maar hy het kom sterf vir almal op aarde!

Wanneer die son skyn, dan skyn dit oor almal, wanneer dit reën, reën dit oor almal – gered of ongered! Jesus is lief vir een en elkeen van ons.

Vandag, liewe vriend, moet jy die versekering hê dat Jesus so baie van jou dink dat hy sy eie lewe opgegee het vir jou!

Jy kan dapper staan en verklaar Jesus het vir jou gesterf!

Onthou, álles is volbring – daai swaarkry, hartseer, depressie, siekte, pyn en lyding, dit is volbring! Dit is volbring! Dit is volbring! Jesus het die prys betaal!

Dit is volbring!

Dit beteken dat die taak voltooi is.

Dit beteken dat sy taak afgehandel is.

Maar dit geld slegs as jy Jesus as jou verlosser aangeneem het en jy tot die oortuiging gekom het dat jy ’n sondaar is.

As jy wil hê dat Jesus ook jou sondeskuld op hom moet neem; as jy deel wil hê aan die oorwinning van Jesus, dan moet jy Jesus ­vandag aanneem as jou Verlosser en persoonlike Saligmaker, my vriend!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters