5 maande gelede
Byt vas; God sal jou die storm help deurstaan
 ~ 

PSALM 107:28-30: Toe het hulle die HERE aangeroep in hul benoudheid; en uit hul angste het Hy hulle uitgelei. Hy het die storm ’n gesuis gemaak, en hulle golwe het stil geword. Toe was hulle bly, omdat dit rustig geword het, en Hy het hulle gelei na die hawe van hul begeerte.

Ons staan op die oomblik en kyk uit na droogte wat in Kaapstad heers. Daar is baie vrae, en baie mense soek antwoorde. Die Bybel sê God sal antwoord as jy Hom in die tyd van benoudheid aanroep.

Ek wil jou bemoedig: Almal gaan deur verskillende seisoene in hul lewe. Iemand ervaar nou somer, iemand anders ervaar winter, iemand ervaar nou herfs of daar is dié wat nou hul lente beleef.

Ongeag in watter seisoen jy jou bevind, die Here is altyd daar. Ps. 107:28-30 sê so mooi nadat die golwe stil geraak het, is hulle gelei na die hawe van hul begeerte.

Die Bybel sê met die storm op die see het dit so woes gegaan, die mense se eie wysheid het hulle in die steek gelaat.

Die lewe het ’n manier om ons mismoedig te maak elke keer dat ons droogte ervaar.

Onthou: Elke seisoen het sy bepaalde tyd. En of dit nou twee of drie maande aanhou, God sál jou antwoord.

Psalm 77:12 sê: Ek dink aan die dade van die Here; ja, ek wil dink aan u wonders uit die voortyd.

Wat sê ek vandag? Ek sê: Dink terug aan hoeveel keer die Here al geantwoord het. Dink terug aan waar jy was. Dink terug aan hoeveel seisoene jy al deurgemaak het. God hét geantwoord.

Die droogte sal nie vir ewig aanhou nie. Kom, Kaapstad, kom ons dink terug en sien hoe die God van die hemel en die aarde al geantwoord het.

Weet dat God jou gaan antwoord. Jou tyd van droogte sal verbygaan; jou nuwe dag gaan aanbreek. God gaan jou antwoord; wees net sterk en vol moed.

Dit maak nie saak waar jy jou bevind nie; dink terug en kyk net na hoeveel kere die Here al geantwoord het. Weet vandag daar waar jy sit dat God in elke seisoen die antwoord is. Weet vandag God bring iemand in die hawe van sy begeerte. – past. Alvin Olivier, The Rock Fellowship Church

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters