3 jaar gelede
Bring lofprysing aan God vir ’n oorwinning
Foto:  ~ 

II KRONIEKE 20: 18-19 en 22: Toe kniel Josafat, en al die mense van Juda en Jerusalem het voor die Here gebuig en Hom eer betoon. Daarna het die Leviete opgestaan en die Here die God van Israel uit volle bors geprys. Juis toe, toe die sangers met die lofprysing en gebed begin, het die Here onverwagte aanvalle bewerk op die Ammoniete, die Moabiete en die mense van die Seïrberge wat teen Juda opgetrek het, en hulle het die een neerlaag ná die ander gely.

Vandag is dit weer tyd dat jy jou stem met ’n loflied tot die Here verhef en uitbasuin dat die Here sy kinders nooit verlaat nie.

Ek weet nie wat jou oorwinningslied is nie, maar ek wil sê: Staan weer op. Jubel weer vir die Here en sing tot eer van sy naam.

Die lied lui so mooi: “Jesus neem my laste en Hy rol dit in die see. Nou het ek die vrede wat Jesus vir my gee.”

Die Bybel vertel ons toe die mense op die bergtop staan, het hulle besef die oorlog is gewen danksy hul lied van lofprysing.

Josafat-hulle trek toe af na die dal waar daar genoeg buit was sodat dit hulle drie dae geneem het om alles bymekaar te maak.

Ek weet nie hoe lank jy stil was nie, maar ek het ’n woord vir jou: Staan op, maak jou mond oop en sing van Sy goedheid. Dit sal dan goed gaan met jou en jou familie – ook by die werkplek.

Volgens vers 26 het hulle die plek Lofdal genoem, want daar het die Here vir hulle opgekom. Mag jy nou ’n lofdal oprig in jou huis, by die werk of waar jy ook al is.

Juda beteken “prys”, maar selfs Juda is onderdruk. Niks wat jy nou ervaar is toevallig nie.

Ek weet vandag as jy by die Here is, sal dit met jou goed gaan. Die berg voor jou sal beweeg.

Breek vandag deur ten spyte van waar jy jou bevind. Daar is niks so lekker soos om daai ou oorwinningslied wat jou ’n paar jaar gelede deurgedra het, opnuut te sing nie.

Die vyand wou jou stilmaak, maar vandag moet jy besef dis tyd dat jy God prys. Hy ken jou hart.

In Psalms staan daar jy sal soos iemand wees wat droom wanneer die Here vir jou deurkom.

Ek wil afsluit met ’n gunsteling-lied wat my deurdra as dinge te veel raak en dit selfs moeilik is om te bid of die Bybel te lees.

Die lied lui: “Jesus, my Heiland, Hy is alles, is alles vir my. Ten spyte van wat ek deurmaak, sal dit wel wees, want Jesus, my Heiland, Hy is alles vir my.”

Mag God jou in jou Lofdal vind.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters