Verlede jaar
Benut ‘stil tye’ om Here te soek
 ~ 

“EK WEET wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed, en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting!” – Jeremia 29:11

Ons voel almal die een of ander tyd leeg: Die kop sak, die skouers hang, want jy is uitgemergel en moedeloos; die trane vloei vrylik en dit voel net asof niemand jou waardeer nie; jy is erg fyn­gevoelig en wroeg oor als.

Jy probeer veg teen ál die negatiwiteit, maar is te moeg vir die stryd.

Dierbares, lees die teksvers en skep moed, wetende jy kan ontsnap uit daardie kokon van hopeloosheid, want daar ís lewe, daar ís iemand wat omgee. Jy sal weer krag kry en hoër strewe.

God belowe dat Hy altyd daar is, dat Hy ons nooit sal versaak nie. As ons bly glo en bly vertrou, sal hy ons krag gee van Bo.

Van jou kant moet jy net nooit ophou glo of ophou bid nie. God is in beheer van ons hele bestaan. Onthou net, ons moet ons soms afsonder en niks doen nie, behalwe om te gaan stilsit aan sy voete en ons gedagtes hemelwaarts rig.

Hou op om soos ’n afkop-hoender van die een huis na die ander te hardloop en te kla oor jou omstandighede. God sal verstaan, daar waar jy in stilte met jou sorge sit.

God sluimer en slaap nooit nie, en in jou stiltetye behoort jy te besef dat Hy dinge agter die skerms reël.

Hy weet wat jy nodig het; meer nog: Hy weet wat die regte tyd is om jou dit te bied.

Pleks daarvan om die stilte as ’n “doodse stilte” te beskou, kan ons gerus begin om dit as ’n “lewende stilte” te beskou – oomblikke waarin ons Hom werklik kan leer ken.

Herinner jouself aan sy beloftes vir bepaalde situasies, en prys Hom dan in geloof vir ’n deurbraak op die regte tyd. Sterkte.

Vader, baie dankie dat U ons toekoms ken. Help ons om moedig te bly in die stiltes. Versterk ons en help ons om geduldig in geloof te wag op U. Ons vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Bedank Hom vandag vir die deurbraak wat op pad is, al sien jy dit nog nie. ’n Geseënde dag vir u almal.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
3 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters