Verlede jaar
As jy kan vasstaan, sal jy ook heel wees
 ~ 

2 SAMUEL 10:17 – Toe Dawid die berig kry, het hy die hele Israel bymekaargemaak, die Jordaan oorgesteek en by Gelam gekom. Die Arameërs het teenoor hom stelling ingeneem en die stryd aangeknoop.

Elke oorwinning oor die vlees en die duiwel se magte word gou opgevolg deur ’n groter geveg. Satan sal hoegenaamd nie die geveg net so laat vaar nie.

Vroue se stryd is nie soveel oor die geveg of die krag waarmee hulle baklei nie, maar meer oor die moed om net staande te kan bly.

In 2 Samuel 10:17 vind Dawid hy word aangeval deur dieselfde vyand wat hy reeds oorwin het.

Waarom sal God jou oorwinning laat smaak net om jou later deur dieselfde hel te sit?

’n Oneindige stryd wat blyk oorwin te wees, is net nooit blywend nie.

Het jy as vrou jou al in ’n situasie soortgelyk aan dié van Dawid bevind? Vegtend in ’n oorlog teen ’n ou vyand?

Wat Dawid lank voor die geveg gerus gestel het, was die belofte wat God aan hom gemaak het dat die oorwinning syne sal wees voordat hy met die geveg begin het.

Die Vader se belofte bly staan: Ek is met jou.

Ja, jy is dalk gewond en oorlaai met hartseer en dalk verneder deur ’n man. Dalk het jy kinders wat geen respek vir hulself of vir jou het nie, maar jy sal staande hierdeur kom.

Kyk weg van jou swakhede, weg van jou hoogmoed, jou oordeel en eiewysheid, want die reën val op die regverdige én die onregverdige.

“Staan vas” is woorde wat ek daagliks gehoor het in my grootwordjare wanneer gangsters mekaar uitgedaag het om te wys wie die sterkste is. Nooit sou ek besef dat ek my eendag met dieselfde woorde sou moes bemoedig nie.

Ons kan almal terugkyk na dinge wat ons moes oorwin. Daai skeibrief wat jou amper ’n senu-ineenstorting gegee het . . . Maar kyk nóú na jou – jy staan vas. Gelukkig, heel, gerestoureer en geseënd.

Iemand het vir jou gebid om eendag staande te bly, so wie dra jy nou op om eendag te staan?

Bou op die Rots. Dit verhoed nie moeilikhede nie. Jy sal storms kry met sterk winde en soms sal jy wil tou opgooi, maar jy moet net besef jy’s nie meer dieselfde mens nie.

Jy’s nou sterker, slimmer, mooier en baie meer standvastig. Jou pyn is verander in lofprysing vir die Vader; jou trane in trooswoorde vir ander wat nog leer staan.

Staan dan nou nie net vir jouself nie, maar vir dié wat nie die moed het om te wil of kan staan nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters