8 maande gelede
Al vlug jy van God, hy is nog saam met jou
 ~ 

JONA 1:3: “Maar Jona het hom klaargemaak om na Tarsis te vlug, van die aangesig van die Here af weg; en hy het na Jafo afgegaan en ’n skip gevind wat na Tarsis sou vaar. En hy het die reisgeld daarvoor betaal en daarin geklim om saam met hulle na Tarsis te vaar, van die aangesig van die Here af weg.” Lees ook Jona 1:17: “En die Here het ’n groot vis beskik om Jona in te sluk; en Jona was drie dae en drie nagte in die ingewande van die vis.”

Wanneer ’n mens van God af weghardloop, dan beweeg jy altyd ondertoe. Jona het besef dat ’n mens nie as ’n onbekende kan reis as jy van God wegvlug nie.

Daar was ’n onsigbare mag wat voortdurend op sy hakke gebly het. Hoe ver hy ook al gevlug het – God was altyd daar.

Die Here het Jona se aandag deur die omstandighede getrek.

Die Here het toegelaat dat ’n sterk wind oor die see opsteek. Dit het so ’n sterk storm veroorsaak dat dit gelyk het asof die skip enige oomblik kon sink.

Die storm het losgebars nadat Jona onder in die skip gaan lê en slaap het. Dit was so erg dat die matrose doodbang geword het.

’n Gewone mens sou sekerlik nie die verband tussen die storm en Jona se vlug raakgesien het nie.

Net soos wat talle gewone mense vandag ook nie besef dat daar ’n verband is tussen omstandighede en die soeke na ’n vryheid van sy/haar gelowige familie af nie.

Hulle besef nie dat God daardie omstandighede gebruik om die jong mense te laat struikel en te laat terugkeer nie.

Die Here stuur ’n vis tot Jona se redding om hom in te sluk sodat hy nie verdrink nie.

Hoeveel keer het ons nie al oorboord geval en dan is die Groot Redder daar om ons te red nie. Daar is geen manier waarop die mens van God kan wegvlug nie. Hy gaan saam met jou, maak nie saak hoe ver jy hardloop nie.

Jona het uit die ingewande van die vis gebid en die Here aangeroep.

Jona het gesê: “In my nood het ek tot die Here geroep, en Hy het my gebed verhoor. Diep in die doderyk het ek hulp gevra, en U, Here, het my gehoor.

“Ek het afgesak tot by die fondamente van die berge, die aarde het my vir altyd toegesluit. Maar U, Here my God, het my van die dood gered.”

Ons moet versigtig wees om nie God te misken in tye wanneer die storms rondom ons woed nie. God verlaat ons nooit nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters