2 maande gelede
Al vier seisoene tog belangrik vir groei
 ~ 

PSALM 1 praat van die regverdige wat soos ’n boom is wat by waterstrome geplant is.

Ons kan maklik verstrik raak in ’n voorspoedsteologie waar ons dink dat alles in die Christelike geloof om blydskap gaan.

Ons het almal al as jeugdiges tienerkampe bygewoon waar ons op ’n geestelike hoogtepunt was en gedink het Christenskap gaan oor ewigdurende blydskap en vreugde, vrede en voorspoed.

Dan gebeur daar soms traumatiese dinge in jou lewe en jy voel gestroop van die “blydskap”. Dikwels vra ’n mens die vraag: Maar waar is God dan?

Elke mens ervaar geestelike somers, lentes, winters en herfste. Elkeen van die geestelike seisoene is baie nodig vir jou geestelike lewe.

Ons kry nie net somervrugte soos perskes en appelkose nie, maar ook wintervrugte soos lemoene en naartjies. Vir die lemoene en naartjies om ryp te word, is dit eers nodig om winter te word.

Só gaan ons ook deur verskillende fases in ons geestelike lewe. Soms voel ons baie na aan God en ander tye ver van God af.

Soms voel ons Godsverlate, soos die Psalms dit uitdruk.

Prediker praat selfs in sy boek dat daar ’n tyd vir alles is.

Juis daarom moet ons elke tyd en seisoen in ons lewe ontvang as geskenke van die Here en elke seisoen as ’n leerkurwe beskou.

Soos wat ’n skoenlapper deur verskillende fases in sy lewe gaan – van ’n eier tot ’n wurm, dan ’n papie en eindelik ’n skoenlapper – gaan ons ook deur verskillende lewens­fases. Ons moet besef dat groei­seisoene belangrik is.

Soms het ’n mens ’n winter­tydperk nodig om jou in te lei na ’n dieper vlak van geestelikheid.

As jy nou deur ’n swaar tyd gaan, beskou dit as ’n uitdaging, want dit sal ook verby gaan. Bly jy net sterk en vol moed.

Vergelyk jou lewe met ’n boom. Die Bybel praat op baie plekke van bome. ’n Boom lyk nie heeljaar dieselfde nie.

In die lente, somer, herfs en winter verander die boom gedurig van gedaante. So ook wissel ons geestelike lewe voor God.

Tog is elke fase nodig. In elke fase vind daar groei en rus plaas. Daarom moet ons vas staan op onse Vader se beloftes.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters