4 jaar gelede
GOUE REËL VERHOED DIE SONDE VAN NIKS DOEN
Foto:

MATT. 7:12: “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete.”

Kom ons begin vandag maar weer by die holrug geryde vraag: As die oorgrote meerderheid Suid-Afrikaners aandui hulle is Christene, waarom is ons land so deurmekaar en vier sosiale euwels hoogty?

Dit is my oortuiging dat ons reeds die basiese resep vir ’n goeie samelewing en gesonde menseverhoudinge van Jesus ontvang het. Dit lê in die woorde van die goue reël wat in Matt. 7:12 opgeteken is.

Die interessante is dat ek lees hierdie lewensreël kom in die meeste godsdienste voor, maar met ’n ietwat negatiewe toon: “Moenie aan ander mense doen wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie.”

Jesus, daarenteen, laat ons nie toe om passiewe gelowiges te wees nie.

Ons kan nie voluit leef deur bloot die negatiewe te vermy of niks te doen nie en dan uiteindelik te kan bid: “Dankie, Here, dat ek vandag niemand leed aangedoen of seergemaak het nie!”

Ons praat in hierdie verband juis ook van die “sonde van versuim”.

Dalk is dít juis ons land en die wêreld se grootste probleem – dat gelowiges niks doen, passief is en versuim om op te tree.

Laat Gods water dan nou maar oor Gods akker loop!

Laat ons maar net bid en tot die Here roep om dinge te verander.

Wel, die Here plaas die bal terug in ons kampie!

Kom ons vra onsself dan af wat dit is wat ek wil hê ander mense moet aan my doen of hoe ek wil hê ander mense moet my behandel – en dan begin ons om dit aan ander mense te doen.

Ek verwag dat ander mense, insluitend my geliefdes, my altyd sal respekteer. Dieselfde geld my besittings en ruimte.

Daarom gaan ek elke ander mens respekteer. Ek verwag dat ander my regte as landsburger erken, respekteer en bevestig.

En ek verbind my daartoe om dieselfde aan ander te doen.

Ek wil hê daar moet na my geluister word, my sake moet reg hanteer word en ek verwag billike behandeling. Daarom begin ek opnuut vandag om waarheid, reg en geregtigheid in my optrede en gesindheid in te bou.

Die lekkerste van alles is dat ek weet – die versekering het – dat wat die Here van ons vra, Hy reeds aan ons geskenk het. Die Heilige Gees bekragtig en bemagtig ons om daders van Sy Woord te wees.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters