4 jaar gelede
GOD SAL JOU HELP OM JOU GOED WEER TERUG TE VAT
 ~ 

1 Samuel 30:1-3: “Toe Dawid en sy manne op die derde dag in Siklag aankom, het die Amalekiete al klaar ’n strooptog onderneem teen die Suidland en teen Siklag. Hulle het Siklag verower en afgebrand. Hulle het die vrouens en almal daarin, groot en klein, as krygsgevangenes weggevoer. Hulle het niemand doodgemaak nie, maar almal gedwing om saam met hulle te gaan.”

Dink jou net in: Hoe moes Dawid en sy manne nie gevoel het toe hulle daar aankom en al hierdie dinge sien en besef hulle het als verloor nie, soos in als?

Maar kyk, toe besluit die manne hulle wil Dawid doodmaak omdat hulle hom die skuld wil gee.

Maar die Bybel sê Dawid het eenkant toe beweeg en met die Here begin praat. Die beste manier wanneer jy deur enigiets gaan, is om met die Here te praat. Want die Here bring herlewing, oorwinning en genesing.

So ons kyk nie na ’n mens as ons moeilike tye deurmaak nie, maar ons kyk na die Here. En Dawid het Hom geraadpleeg en gesê: “Sal ek hierdie bende agterna jaag? Sal ek hulle inhaal?

En Hy sê: “Agtervolg hulle, want jy sal hulle sekerlik inhaal en red.”

So die Here wou hê Dawid moet teruggaan en terugvat wat die duiwel van hom gesteel het.

Die Here staan gereed om jou in als te ondersteun en jy sal dít wat jy verloor het, terugkry as jou geloof in die Here sterk is.

En wat baie sterk deurkom in hierdie verhaal, is dat die Bybel sê Dawid het homself bemoedig.

Baie keer is daar mense wat teen jou draai en dis mense van wie jy dit nie verwag het nie. Maar dan moet jy doen wat Dawid gedoen het: Jy moet jouself versterk in die Here en in die geloof terugvat wat joune is – en die Here sal toelaat dat jy dit bereik.

Vat jou man terug, vat jou kinders terug, vat jou werk terug – vat alles terug wat die Here aan jou gegee het in die naam van die Here. En die Bybel sê Dawid het alles teruggekry en hulle het teruggetrek na hul land.

Ek verklaar in Jesus-naam dat die Here jou sal help om alles terug te kry wat jy verloor het: jou blydskap, werk, kerk, kind, kar, huis, vrou en meer. Gods seën.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters