2 jaar gelede
Zuma ontsnap weer uit moeilike situasie
 ~ 

PRES. Jacob Zuma is soos Houdini – hy ontsnap elke keer uit die moeilikste situasie. Dis dié week weer bewys deur die U-draai wat drie van die ANC se invloedrykste ampsdraers gemaak het nadat hulle die president in die openbaar oor sy kabinetskommeling gekritiseer het.

Die drie – Cyril Ramaphosa, Gwede Mantashe en Zweli Mkhize – het gesê hulle aanvaar hulle het ’n fout begaan deur die president openlik te kritiseer. Dié drie se besluit om hulle agter die president te skaar, is ’n gatslag vir die veldtog om van Zuma ontslae te raak.

Ná die vergadering van die nasionale voorbereidings­komitee van die ANC het die party weer laer getrek. En is Zuma weer verskans in sy posisie en kan hy weer asemhaal – die gegons rondom sy kop ten spyt.

Vrydag se protesoptogte sou vir die president soos water van ’n eend se rug wees. En hy kan voortgaan met sy beleid van “radikale ekonomiese transformasie”.

Sy ondersteuners wys daarop – en tereg ook – dat bitter min vir arm mense verander het sedert die koms van die demokrasie en dat die ekonomiese mag steeds in wit hande is.

Radikale ekonomiese transformasie is beslis nodig. Maar dan moet die motivering daaragter reg en edel wees. Dit moet die lot van die armes verbeter. Tans lyk dit of dit bloot ten doel het om Zuma en sekere sakemanne te dien.

Die vordering met die kernkragtransaksie en ander groot staatskontrakte moet fyn dopgehou word, want ons kan nie toelaat dat die staatskas geplunder word onder die dekmantel van radikale ekonomiese transformasie nie.

Ramaphosa en kie sal deur die geskiedenis veroordeel word as hulle dit toelaat.

Ná hul openbare verskoning kan ’n mens egter nie help om te wonder hoeveel gesag hulle nog in die ANC afdwing nie...

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters