2 jaar gelede
Zuma en trawante moet gestuit word
Pres. Jacob Zuma  ~ timeslive

TOT hiertoe en nie verder nie! Dit is die duidelike boodskap van miljoene Suid-Afrikaners wat soos een verenig het om hul woede en teleurstelling oor pres. Jacob Zuma se “Nag van die Lang Messe” uit te spreek.

Selfs uit sy eie kabinet – wat nie gekonsulteer is nie, maar ingelig is – is daar teenkanting.

Adj.pres. Cyril Ramaphosa het baie duidelik sy teenkanting geuiter teen Zuma se besluit om die minister van finansies en sy adjunk te ontslaan.

Daar word wyd bespiegel oor die Guptas se betrokkenheid by die samestelling van die nuwe kabinet, veral omdat Zuma met ’n vooraf opgestelde lys name opgedaag het by die vergadering waar hy die aankondiging gedoen het.

Mense sê nou die Guptas se “Projek Staats­kaping” is voltooi, want Zuma het nou ál sy lakeie in die kabinet en het beheer oor die staatskas.

Dat hy egter nou ’n slapende reus laat ontwaak het, is vir seker. Dis nie net gewone mense wat vra vir aksie teen Zuma en sy bondgenote nie, maar ook prominente sakemanne, vakbond­leiers, politici en burgerregte-aktiviste.

Pravin Gordhan het ’n beroep gedoen op mense om te “mobiliseer” soos hulle gedoen het in die dae van die vryheidstryd. Daar is reeds petisies vir Zuma se ontslag wat die ronde doen.

Ons kan verwag dat hierdie oproep om van Zuma ontslae te raak, in die volgende paar dae momentum gaan kry. Mense is moeg daarvan dat een man ’n land só kan verwoes vir sy eie gewin en dié van ’n handjievol van sy kohorte.

Burgerlike ongehoorsaamheid is reeds ’n opsie wat deur baie oorweeg word. Dit alles kan vermy word as die lede van die ANC wat die waardes van Nelson Mandela en Oliver Tambo aanhang, in nasionale belang optree en van Zuma ontslae raak. Ons land moet gered word!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters