2 jaar gelede
Rassehaat floreer in ‘nuwe Suid-Afrika’
 ~ 

DIE droom van ’n Suid-Afrikaanse reënboognasie het die laaste ruk in ’n nagmerrie ontaard.

Dit blyk dis heeltemal te veel gevra vir inwoners van hierdie mooie land om in harmonie saam te leef en om mekaar en ons Grondwet te respekteer.

Rassisme is spekvet en gesond, dankie. Dit is bewys deur ’n hele paar onlangse voorvalle. En dis nie net wit mense wat hulle daaraan skuldig maak nie.

Verlede jaar het ’n studenteraadslid van die Universiteit van Pretoria opslae gemaak met sy Facebook-inskrywing waarin hy sy haat vir wittes beskryf. Onlangs het ’n man ook op Facebook geskryf hoe lus hy is om wit mense te vermoor.

Verlede maand het Son op Sondag berig oor ’n eiendomsagent wat haar werk verloor het oor die liederlike wyse waarop sy na ’n maatskappy verwys het. En die voorval in die Spur het verlede week net weer beklemtoon dat rassehaat in die sogenaamde nuwe Suid-Afrika nog hoogty vier.

En as politici die haat aanvuur met ondeurdagte inskrywings op sosialemedia-platforms, dan moet ’n mens regtig bekommerd raak.

Oorlede oudpres. Nelson Mandela was ’n groot versoener. Wie kan ooit die ikoniese oomblik vergeet toe hy – geklee in die tóé (vir baie mense) gehate Springbok-trui – in 1995 die Wêreldbeker aan Francois Pienaar oorhandig het?

Daardie dag was Suid-Afrika een. Mense van alle rasse het die oorwinning saam gevier en emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu kon toe tereg van ’n reënboognasie praat.

Op grond van onlangse gebeure is daardie dag egter nou net ’n aangename herinnering.

Suid-Afrika is weer so verdeeld soos in die apartheidsjare. En dit lyk of ons weer ’n wonderwerk gaan benodig om ons te verenig.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters