2 jaar gelede
Die reënboognasie is nou net ’n droom
Foto ter illustrasie  ~ 

EMERITUS-AARTSBISKOP dr. Desmond Tutu se droom van ’n ware reënboog­nasie lê aan skerwe. Dié week se gebeure het dit net weer onderstreep.

Mense is verdeeld – op grond van ras. Ver­soening blyk iets te wees waarin bitter min mense belangstel. Die lelike tonele in Coligny wys dat sommige Suid-Afrikaners onverdraagsaamheid vuriglik omhels.

In Eldoradopark, Johannesburg, het bruin mense dit duidelik gemaak dat hulle ontevrede is omdat van hul swart landgenote – volgens hulle – voorgetrek word wanneer dit kom by die toekenning van huise. En ’n (swart) vrou (of iemand wat voorgee om dit te wees) het op Facebook allerhande vieslike haatspraak gemik op wittes kwytgeraak. Dan was daar ook die “Nazi”-plakkate in Stellenbosch.

Dit volg op die hakke van die onverkwiklike Spur-voorval, wat voorafgegaan is deur die eiendomsagent Penny Sparrow wat swart strandgangers “monkeys” genoem het.

Ntokozo Qwabe, ’n #RhodesMustFall-aktivis, het verlede jaar hoofopskrifte gehaal toe hy geweier het om ’n (wit) kelnerin ’n fooitjie te gee “voordat wit mense die land teruggee aan swart mense”.

Dié week het regter Mabel Jansen bedank nadat sy ’n aanmerking oor ras gemaak het wat haar in die warm water laat beland het.

Daar was ook die voorval waarin twee (wit) mans ’n swarte in ’n doodskis gesit het.

Ongelukkig het dinge so handuit geruk dat die regering dit nodig geag het om die Wetsontwerp op die Voorkoming en Bestryding van Haatmisdade en Haatspraak voor te stel.

Dis jammer dat Suid-Afrika wetgewing nodig het om te verseker dat mense van alle rasse en klasse in harmonie met mekaar leef.

Op grond van die onlangse gebeure is hierdie wetgewing egter broodnodig.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters