2 jaar gelede
Daar is weinig om te vier op Vryheidsdag
 ~ 

VRYHEIDSDAG 2017 het gekom en gegaan. Dit is veronderstel om ’n dag te wees waarop mense hul swaarverdiende vryheid geniet.

Daar was vir die gemiddelde Suid-Afrikaner egter bittermin om te geniet of te vier. Want ons land boer net agteruit onder die huidige ANC-regering en dit lyk nie asof daar lig aan die einde van hierdie donker tonnel is nie.

ANC-lojaliste sal waarskynlik nie saamstem nie. Hulle sal die “pessimiste” daarop wys baie meer mense as onder die apartheidsbedeling het nou huise, elektrisiteit, spoeltoilette en ontspanningsgeriewe.

Hulle sal ook daarop wys dat miljoene mense onder die ANC-regering staatstoelae kry en dat baie hospitale en klinieke gebou is in gebiede waar daar voorheen niks was nie.

Maar die kritici sal daarop wys dat die land op ekonomiese gebied nie juis vooruitgang toon nie, dat ons kredietgradering rommelstatus bereik het, dat ons semistaatsinstellings soos die SAA, SABC en Eskom wanbestuur word en in groot finansiële moeilikheid is, en dat die man in die straat sukkel om kop bo water te hou.

Hulle sal ook daarop wys dat die armes se posisie nie juis verbeter het nie en dat die dood van apartheid en hul nuutgevonde vryheid nie veel aan hul omstandighede verander het nie.

Die armes ly nog net so soos hulle onder die Nasionale Party-regering gely het.

Kritici van pres. Jacob Zuma sal daarop wys dat sy belofte van radikale ekonomiese transformasie waarskynlik ook nie veel gaan doen om die lot van die armes te verbeter nie.

Hy wil die ekonomiese mag wegvat van die tradisionele “wit” maatskappye, maar watter waarborg is daar dat dié mag nie in die hande van sy vriende die Guptas gaan beland nie?

Hopelik gaan ons volgende jaar meer hê om te vier op Vryheidsdag . . .

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters