2 maande gelede
Roosmaryn help jou beter studeer
 ~ 

BESTE leser

Laas week het ’n ma ’n brief aan my gestuur waarin sy sê sy is bekommerd oor haar kind wat so sukkel op skool en nie huiswerk wil doen nie.

Ek het in die lig van dié brief besluit om ’n bietjie uit te wei oor die regte studiemetode vanuit ’n geestelike oogpunt.

Ek dink nie baie leerders dink aan hierdie aspek wanneer hulle studeer nie.

Hierdie is universele reëls wat deur oud en jonk gebruik kan word vir enige doel – hetsy eksamens, toetse of enige ander vorm van kennisverwerwing.

Baie mense besef dit nie, maar die plek waar jy studeer, het ’n enorme uitwwerking op die hoeveelheid kennis wat jy inneem, die gehalte van daardie kennis en jou vermoë om dit weer op te roep, byvoorbeeld in ’n eksamen.

Jy moet op ’n gemaklike plek sit, maar nie so gemaklik soos jou bed, waar jy miskien aan die slaap kan raak nie.

Ek verkies ’n lessenaar met ’n regop stoel. Die stoel moet ’n rugleuning hê.

Jy moet ’n muur agter jou rug hê in terme van die kamer se uitleg. Dit beteken jy het die wêreld agter jou.

Moenie met jou rug na ’n venster sit nie, want dan het jy nie die wêreld se steun agter jou vir hierdie taak nie.

Jy moet ook nie met jou gesig na ’n spieël sit en studeer nie, want dit gaan jou aura verswak en dan gaan jy nie die kennis reg inneem nie.

Net voordat jy begin studeer, moet jy ’n tealight candle aansteek en ’n kort gebed opsê waarin jy erken dat jy werklik van plan is om kennis in te neem.

Jy kan ook God en die engele vra om jou te ondersteun.

Jy kan twee of drie druppels roosmaryn-olie op jou hande sit en dit dan drie keer insnuif.

Roosmaryn help geweldig baie met jou geheue en met konsentrasievlakke.

Jy snuif dit juis drie keer, want in die tarot-kaarte is daar ’n “Three of Cups”-kaart, waar twee soorte energie bymekaarkom en ’n derde een gebore word. Jy eien daai een vir jouself op om jou te help.

As jy vars roosmaryn het, kan jy rooibostee maak met heuning en suurlemoensap. Voeg roosmaryn by en drink dit dan terwyl jy studeer.

Op die dag van die eksamen kan jy ook ’n bietjie roos­marynolie op die vloer van die stort spat voordat jy stort, of ’n paar druppels in jou bad gooi. Jy kan ook daai tee weer drink.

  • Bel Bruno gerus by 021 439 2154 vir ’n persoonlike konsultasie teen betaling of skryf aan Bruno, Son op Sondag, Posbus 6262, Roggebaai 8012. Stuur ’n faks na 086 503 1993 of e-pos albert@kaapseson. com, of kyk aanlyn by psychicbruno.co.za.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters