14 dae gelede
Ou wat suip soos Visse, ruik ’n Rot
 ~ 

BESTE Bruno

Ek is op 14 Maart 1979 gebore en my vrou op 21 April 1984.

Ons is op 30 Oktober 2010 getroud. Ons het ’n seun (gebore 2 Maart 2009) en ek het ook ’n kind (gebore 21 April 2007) uit ’n vorige verhouding.

Voor ons troue het ons ’n wonderlike lewe gehad.

Maar ná ’n paar getroude jare het dinge baie verander.

Sy het nie in haar vorige verhoudings ’n goeie lewe gehad nie. Ons het mekaar ook in ’n stadium gelos toe ek nie werk gehad het nie, maar ek het aangehou om dinge reg te maak.

Sy het my al telkemale verneuk in ons huwelik en het ook swanger geraak van ’n ander man, maar ek het haar maar net weer gevat.

Ek het weens drankmisbruik self nie ’n goeie lewe gehad nie, maar het myself gerehab.

Ek het nou weer ’n goeie werk en ons is nog bymekaar. Graag wil ek weet hoe my toekoms met haar lyk. Anoniem

Jy is onder die Westerse teken van die Visse gebore en onder die Oosterse teken van die Bok.

Die Visse kan hulle eie grootste vyand wees, want hulle swem nie altyd saam nie.

En die Bok herkou aan goed wat in die verlede gebeur het.

Dit is hoekom jy nog in die brief vertel van jou vrou se verneukery.

Jou vrou is baie meer gekompliseerd as wat mense dink.

Sy is op die oorgang tussen die Westerse tekens van die Ram en die Bul gebore. Albei het horings en wil fight.

Sy’s ook onder die Oosterse teken van die Rot gebore. Die Rot is baie sensitief. Dit is dus ’n baie ingewikkelde samestelling.

Ek weet dis vrek moeilik om te vergewe en veral te vergeet.

Maar hierdie ding met jou vrou krap aan jou en ek wil nie hê dit moet jou terug na die drank toe dryf nie.

Jy moet klaarmaak met daardie ou saak.

Daarom stel ek voor jy skryf al jou gevoelens op papier neer. Vou dit drie keer, verbrand dit en spoel die as in die toilet af.

In die Jaar van die Vark (volgende jaar) sien ek julle weer as ’n gelukkiger verhouding en ’n hegte gesinnetjie.

En ek stel ook voor jy oorweeg jou rehab en gaan na ’n meeting toe. Dis net om jouself weer te verseker dat jy wel ’n sukses is met ’n goeie werk, en dat jy nugter is en aangaan.

Sterkte vir albei van julle en moenie stupid goed aanvang in die festive season nie.

  • Bel Bruno gerus by 021 439 2154 vir ’n persoonlike konsultasie teen betaling of skryf aan Bruno, Son op Sondag, Posbus 6262, Roggebaai 8012. Stuur ’n faks na 086 503 1993 of ’n e-pos aan albert@kaapseson. com, of kyk by Bruno se site, psychicbruno.co.za.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters