6 maande gelede
My huishouding is ene spanning
 ~ 

Beste Bruno

Ek hoop dié keer trek my e-pos jou aandag.

Ek is vreeslik bekommerd oor my gesin. Ek dink albei my seuns is gay, en ek is uiters teleurgesteld daaroor. Dis iets wat ek sukkel om te verwerk.

Verder vernietig werkloosheid en dwelm- en alkohol­misbruik ons huishouding en konflik is ’n daaglikse ding onder­ ons dak.

Die kinders is Maagd en Weegskaal; my man is Vis en ek is Weegskaal.

Asseblief, ek is desperaat om te weet wat die toekoms vir ons inhou. – Anoniem

Omdat jy nie datums gee nie, kan ek hoofsaaklik net met die Westerse tekens werk.

Die Maagd-seun is sterk, want hy is gebore onder ’n aardteken.

Maagde is gewoonlik plat op die aarde geanker, wat van hulle stabiele mense maak.

Hulle is ook ’n bietjie geneig tot depressie, maar dit word gewoonlik reggestel wanneer hulle geprys word vir prestasies, want hulle wil die beste wees in wat hulle doen.

Die Weegskaal-seun is baie meer ingewikkeld, want sy gemoed is baie op en af.

En omdat jy ook ’n Weegskaal is, geld dieselfde vir jou. So, mense weet dan eintlik nie waar hulle met jou staan nie.

Jou man, wat ’n Vis is, is ook ’n ingewikkelde mens.

Dis ’n waterteken en diegene wat daaronder gebore is, weet baiekeer nie of hulle kom of gaan nie.

Ek sien dís waar die drank ’n groot invloed uitoefen.

Die meeste van die erge spanning en negatiwiteit in die huis sal verdwyn as jy jou houding teenoor jou kinders verander.

Hulle kan hul seksualiteit nie verander nie, en het ook nie gekies om so te wees nie.

Nou het hulle nog ’n ouer wat hulle nie daarvoor wil aanvaar nie. Hulle bly dus ongelukkig en misbruik dwelms.

Bied hulle onvoorwaarde­like liefde en jy sal sien hulle begin blom.

As jy my raad volg, sien ek ’n kreatiewe werk vir jou Maagd-seun en nog voor die einde van die jaar ’n werk wat studies vereis vir jou Weegskaal-seun.

Dit is die Oosterse Jaar van die Hond en honde maak vriende en staan saam as ’n trop. So, verander jou houding teenoor jou seuns en julle sal bond.

Ek sien ook dat jou man hom nie meer tot alkohol sal wend wanneer daar minder spanning in die huis is nie. Sterkte.

  • Jy kan Bruno kontak vir ’n persoonlike konsultasie teen betaling. Bel hom gerus by 021 439 2154; skryf aan Bruno, Son op Sondag, Posbus 6262, Rogge­baai 8012; stuur ’n faks na 086 503 1993, e-pos albert@kaapseson.com of gaan kyk aanlyn by psychicbruno.co.za.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters