4 maande gelede
Hou donkerte só uit jou binneste
 ~ 

Beste leser

Verlede week het ek mos ’n bietjie raad gegee oor wat jy buite jou huis kan doen om jou gesin en jou woning te “beskerm”.

Teen die winter-blues, natuurlik! Daai blues is ’n werklikheid, want baie mense se liggaam word negatief beïnvloed wanneer hulle te min son kry. Sonlig is goed vir jou vitamien D-vlakke.

Die sielkundige donkerte en koue het beslis ’n negatiewe uitwerking op mense.

Onthou, winter is die tyd dat die natuur stil raak.

Goed sterf om plek te maak vir vernuwing en die nuwe lewe van die volgende siklus. Winter is dus baie nodig.

Maar vandag gaan ek so ’n paar woorde praat oor wat jy binne kan doen om jou teen al die negatiewe, donker energie te beskerm. Winter is nie net die tyd vir vaal, grys, bruin en swart kleure nie.

As jy wel jou klerekas so bekyk en so baie van jou winterklere in daai kleure sien, kan jy so ’n bietjie positiewe energie na jou aantrek deur jou wardrobe met ’n kleurryke serp of hoed op te kikker.

Om positiewe energie by jou slaapkamer in te nooi, kan jy ’n helderkleurige duvet of kussings op jou bed sit.

Maar voordat jy daarby uitkom: Onthou om die matras om te dop.

En maak ’n slag jou huis van kop tot tone skoon.

Skuif die meubels rond en stofsuig oral. Al daai stof lok net negatiewe energie.

Was jou vensters mooi blink en laat ook jou spieëls skitter deur ’n paar lepels suur­lemoensap in ’n emmer water te gooi.

Die mengsel sal ook goed werk vir jou vensterbanke. Nie net ruik dit lekker nie; dit sal op die vensterbanke ’n grens vorm teen negatiewe energie.

Benewens die opbouende energie laat skoon vensters boonop die sonlig inkom.

Los jou gordyne oop om die meeste uit die situasie te put.

’n Ander belangrike verskansing teen die donker energie is kruie soos basil, tiemie en roosmaryn, wat jy in klein potjies op die vensterbanke in jou kombuis kan sit. Dis net ’n goeie ding as jy Moeder Natuur in die huis inbring.

Plante lok ook geluk en geld, en die ou geloof is dat die duiwel nie kan kom waar basiliekruid groei nie.

’n Peace Lily is ook goed, want dit vra nie baie aandag en sonlig nie. Dis geskik vir die slaap- en badkamer.

  • Bel Bruno gerus by 021 439 2154 vir ’n persoonlike konsultasie teen betaling of skryf aan Bruno, Son op Sondag, Posbus 6262, Roggebaai 8012. Stuur ’n faks na 086 503 1993 of e-pos albert­@kaapseson. com, of gaan kyk aanlyn by psychicbruno.co.za.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters