4 maande gelede
Dis tyd om reg te maak vir winter
 ~ 

BESTE leser

Ek ken baie mense wat werklik die winter-blues kry van die reën (hopelik) en vroeë donkerte.

Ek wil julle dus bewapen met positiewe energie teen daai neerslagtigheid en siektes wat dié tyd van die jaar toeslaan.

Kom ons begin in die tuin, aangesien dit nog herfs is.

Ál daai blare wat geval het en ander dooie organiese materiaal­ bevat baie negatiewe energie.

So, nou is die tyd om ál daai tuinrommel weg te gooi.

Dis ook nou ’n goeie tyd om ál die plante wat gesnoei moet word, te snoei.

Dít alles skep ’n varsheid wat lewe wek en positiewe energie na jou tuin en huis trek.

En terwyl jy dié herfs­opruiming doen, kom jy ook in aanraking met die grond, en sodra jy dit doen, aard jy jou aan Moeder Natuur en trek jy ook positiewe energie van haar na jou tuin en huis.

Nou, wat kan ’n mens in ’n nat winter plant?

Sade soos dié van pampoen, skorsies, waatlemoen en groenboontjies aard goed in nat grond.

Onthou net, met elke plantsoort moet jy ’n bronsmuntstuk begrawe en bid vir geluk.

Geraniums en veral kappertjies sal ook werk. Nie net bied hulle jou tuin vrolikheid en kleur nie, maar hulle trek ook posi­tiewe energie.

Kappertjies sal in die lente en somer ook sommer slange­ van jou huis en tuin verdryf.

Die kruie wat jy nou kan plant, is goed soos mint. Dít trek geld en geluk na jou huis.

En mint-takkies is ook ’n uitstekende reukweerder oral in die huis.

Jy kan tiemie en roosmaryn by die voordeur plant, want albei trek geluk.

Plant die tiemie tussen die plaveisel, want wanneer ’n mens daarop trap, kneus jy ’n heerlike reuk daaruit, en dit bly in die lug hang.

Vervang gou alle gloei­lampe wat buite nie werk nie, want dit moet duister en negatiewe energie verdryf.

Maak ook ál die dreine buite skoon. Smyt ’n handvol growwe sout daarin en spoel dit af met ’n paar druppels Jeyes Fluid en ’n emmer warm water.

Nie net reinig dit die dreine nie, maar dit spoel ook die ou negatiewe energie weg.

Herstel ook elke gekraakte of gebreekte venster om nega­tiewe energie te blokkeer.

) Vir ’n persoonlike konsultasie teen betalingel kan jy Bruno kontak deur hom te bel by 021 439 2154, te skryf aan Bruno, Son op Sondag, Posbus 6262, Roggebaai 8012 of ’n faks te stuur na 086 503 1993 of e-pos na albert@kaapseson. com of hom aanlyn op te soek by psychicbruno. co.za.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters