7 maande gelede
Beter dae wag op vurige Vuurperd
 ~ 

Beste Bruno

Ek is op 31/03/66 gebore.

My seun is in 2016 deur die polisie geskiet en is nou verlam. Sedertien is hy nooit weer aangekla nie.

My kind is ook vasgevang in sy gangster-vriende. Hoe gaan ek maak hom daaruit te kry?

My man en my seun kom ook nie oor die weg nie en dit maak my ook baie ongelukkig.

Ek is ook onregverdig afgedank en sit nou sonder werk.

Ek is moeg van dié dinge.

Ek is net ’n tyd gelukkig, dan is alles maar weer back to square one. Ek is moedeloos.

Ek het gedink dit is die vroue uit my man se vorige huwelike wat besig is saam met my.

Ek soek raad oor hoe om hierdie probleme te kan oorkom. Anoniem

Jy is gebore onder die Westerse teken van die Ram en onder die Oosterse teken van die Vuurperd. Dis ’n ongelooflike skaars teken, wat net elke 36 jaar sy verskyning maak.

Die Ram-en-Vuurperd-kombinasie maak jou ’n geweldige sterk persoon.

Maar jy kan ook jou eie grootste vyand wees.

Want jy kan baie hardkoppig en beneuk voorkom, al is dit nie altyd so nie.

Albei tekens word dikwels misverstaan deur ander mense.

Jy sal dus elke dag so ’n bietjie stiltetyd moet hou om rustig te raak. As jy rustig raak en nie almal vir die probleme blameer nie, sal die huis ook rustiger raak.

Jy is nou in daai tweemaande-periode vóór jou verjaardag en in daai periode voel dit of niks uitwerk nie.

Maar sodra daai periode verby is, sien ek ’n vorm van werk na jou toe kom in April. Maar dis nou as jy rustiger raak en ’n wag voor jou mond sit.

Ek sien ook ’n geleentheid vir jou seun om ’n vorm van werk te kry, so teen Junie se kant. Maar dan moet hy dit aangryp.

Eerstens sal dit hom weghou van die verkeerde mense af.

En tweedens sal hy ’n bydrae kan maak by die huis en so teen Augustus se kant sal dit die band tussen hom en sy stiefpa versterk. Die probleme tussen hom en die pa sal minder word, want ek sien die pa is bekommerd oor die negatiewe invloed van sy vriende en oor die seun nie bydra nie.

Ek sien ook ’n vriendin vir hom in die toekoms wat betrokke is by die kerk en dit sal ’n positiewe invloed op sy lewe hê.

Ek sien geen knoeiery van die eksvroue op jou nie.

  • Bel Bruno gerus by 021 439 2154 vir ’n persoonlike konsultasie teen betaling of skryf aan Bruno, Son op Sondag, Posbus 6262, Roggebaai 8012. Jy kan ’n faks stuur na 086 503 1993 of e-pos ­­­albert@kaapseson.com, of jy kan aanlyn kyk by ­psychicbruno.co.za.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters