5 maande gelede
Wie sal ons veilig na die beloofde land lei?
crime stats
Bheki Cele, polisieminister, erken die polisie het die bal misgevang.  ~ 

DIE hemelhoë misdaad-stats wat hierdie week aange­kondig is, basuin die boodskap uit: Ons land is diep, diep in ’n self­gemaakte hel, waar die bloed vloei en niemand meer veilig voel nie.

Jou goed is nie eens meer jou eie nie. Diewe hou jou soos honger aasvoëls dop om jou daarvan te stroop.

Ons is ’n moorddadige nasie wat mekaar uitroei en vernietig. Ons woon in ’n vaal en ekonomies geplunderde landskap.

Platgeslane mense wonder of hulle die nasionale minister van polisie, Bheki Cele, se beloftes kan glo. Tydens die aankondiging van die syfers het hy gesê hy sit sy kop op ’n blok: Misdaad gaan binne die volgende jaar afplat.

Gaan hy volgende jaar ten minste sy koddige hoed afhaal as hy sy kop op daai blok sit?

Maar wat maak dat dit nóú so gerook gaan? Hap die nare simptome van apartheid mense steeds aan die gat? Is dit omdat die droom van ’n reënboognasie in die land van melk en heuning toe nooit waar geword het nie?

Of is dit omdat so baie van ons leiers die Afrika-resep slaafs navolg? Hulle maak pragtige beloftes aan verhongerde mense, maar verjaag die behoeftiges en hou hulle buite wanneer hulle self om die vleispotte aansit en hulle dik vreet – soos die Gupta-ondersoek wys?

Is die moorddadigheid ’n gevolg van wat die ou spreekwoord sê: Ledigheid is die duiwel se oorkussing?

Die werkloosheidsyfer in ons land staan op ’n skrikwekkende 26,6%. ’n Mens kan dit ook duidelik sien aan die lang rye Sassa-mense.

Dit laat ’n mens wonder: Moet die verandering by die massas begin, of by die dikgevrete leiers?

Wie gaan wys in watter rigting ons moet beweeg om ’n produktiewe, positiewe omgewing te skep waarin almal kan saamwerk aan ’n beter toekoms vir ons almal?

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters