2 maande gelede
Suid-Afrika het bekering nodig
Foto ter illustrasie  ~ 

Darryl Bottrie skryf per e-pos:

Dit is skokkend en hartverskeurend wanneer ons met ’n pynlike oog in die sosiale media en koerante berigte lees van al die baie moorde en verkragtings.

Maar het ons ooit gaan stil sit, besin en gewonder hoekom dié dinge gebeur?

Dit is veral skokkend wanneer ons lees van die wreedheid van die misdade: Liggame word opgesny; maande oue babas word verkrag; vermiste kinders se lyke word in bosse gevind; vroue word voor hulle kinders verkrag; die buurman of pa verkrag kinders wat nog nie eens tieners is nie; ’n pa versmoor ’n baba en verskeur die liggaampie met sy tande ...

Satanisme

En so kan die lys van gruwel aangaan.

Lees ons hierdie berigte met die nodige insig of staar ons ons blind teen die werklikheid?

Die vrae is: Is dit mens­like optredes?

Is dit nie eerder tekens van satanisme nie?

Watter regdenkende mens sal ooit sulke dinge aanvang?

Dan lees ons verder en blameer dwelms daarvoor.

Onskuldige lewens is geneem. Ouers en families is ten gronde, en daar is ’n leemte gelaat wat vir ewig by hulle sal spook.

Dis lewens wat nooit teruggebring kan word nie, maar ’n knou wat vir ewig sy letsels sal wys.

Ons aandag en fokus val onmiddellik weer op die strafregstelsel hier in Suid-Afrika.

Wat gaan die optrede wees teenoor hierdie oortreders?

Woede

En watter straf gaan uiteindelik toegedien word?

En soms, tot ons teleurstelling wat uiteindelik soos sout in ’n oop wond is, kyk die reg anderpad deur die oplegging van ’n ligte straf.

Nie net bring dit woede na vore in die gemoed van Jan Publiek nie, maar ook by die families van die slagoffers.

’n Kind wie se lewe nog nie eens begin het nie; ’n kind wie se hele lewe nog voor hom of haar uitgestrek het; ’n kind wat so graag uitgesien het na sy of haar loopbaan, om iets in die lewe te word; ’n ma wie se lewe kortgeknip is en wat haar kinders moes agterlaat ...

Kom ons vergelyk hierdie gebeure met die Bybel en wat die Woord van God daaroor sê.

Die boek Openbaring is van toepassing, en ek noem dit met alle respek teenoor Openbaring.

Suid Afrika beweeg in die rigting van Openbaring.

Profete

In die laaste dae sal die Antichris oor ons gemeenskappe regeer.

Vir my, wat ’n Christen is, is dit hartverskeurend en kommerwekkend wanneer ek die wêreld vierkant in die oë staar en sien wat besig is om te gebeur in vergelyking met wat die Bybel beskryf.

Valse profete wat oral uitdop met valse profesieë; kinders wat teen hulle ouers in opstanding kom; kinders wat hulle vergryp aan die welluste van die wêreld; kinders wat kinders kry ...

En so kan ons nog baie voorbeelde opnoem.

Satan het ’n duidelike houvas op ons gemeenskappe. En dít is die bevestiging wat Openbaring vir ons kom gee – van die koms van die Here.

Hier is voorbeelde van hoe die Antichris besig is om oor te vat:

  • Godsdiens word in skole verbied;
  • Christen-organisasies word in skole verbied;
  • godsdiens-byeenkomste word verbied;
  • die toediening van lyfstraf in skole word verbied;
  • ouers mag hulle kinders nie meer teregwys met ’n pak slae nie;
  • seksuele opvoeding word in skole aangebied.

Maak hierdie dinge, wat misdaad betref, nie deel uit van die huidige situasie regoor die wêreld nie?

Watter oplossing het ons vir die toestande in ons land?

Ons kan daarop aandring die strafregstelsel moet strenger toegepas word. Dit is iets waarmee ek volkome saamstem.

Maar bo alles is dít die oplossing: Al ons politieke leiers moet terugkeer na God sodat Suid-Afrika ook kan terugkeer na God.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters