2 jaar gelede
Sterfbed – ’n gedig
 ~ 

teen die plafon speel my lewe af

gewaar op die agtergrond my graf

tussen sinne waar spyt sirkuleer

soek ek steeds salf vir my siel se seer

’wyl ek verlede se letsels lees

vul vroeër se foute my met vrees

ek wag dat God gou genade gee

op my lewenspad se heel laaste treë

permanent plat in één posisie

verlore, verdwaald, met vae visie

my kommer ketting, krank en kasty

en soete slaap het van my geskei

my naaste veg en laat vonke spat

in worstel en wonder wié kry wát

my besittings bespreek met ba­klei

oor my welstand word nie uitgewei

sonder klank aan my kooi gekluister

moet ek na skril geluide luister

dis so koud, maar niemand raak my aan

bemerk nié my stille snik en traan

berou kry my beet ... brand in my bors

sidder seer oor gister se absolute gemors

ek smag weer na stilte sonder steur

waar storms nou losbreek en regeer

smeek by God in asemhaling swak

en swaar sondeskuld wat my laat knak

vir kwytskelding en ’n skone kleed

dat ek kan vertrek, vry en gereed

in laaste ure tuiste in sig

my oë op die eindstreep gerig

wil gewillig gaan na warmte,

oorkant se vrede en kalmte ...

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters