5 maande gelede
‘Ons moet’ ons land regruk
Parlement: Die skrywer meen ons politici is tsotsi’s. Foto: WIKIPEDIA  ~ 

Keith Alfred Adolph Blake van Ottery skryf per e-pos:

Ons politici is so goed met woorde dat dit soos musiek in hul lesers of luisteraars se ore klink.

Ons hoor al sedert die begin van ons ontwikkelende demokrasie woorde soos “staatskaping”, “oor- en onderbesteding”, “uitdagings”, “tekortkominge” en “finansiële onreëlmatighede” – om net ’n paar te noem.

Maar eintlik beteken dit net dat nikswerd skelms en goedgeklede tsotsi’s die politiek gebruik om hulself te verryk deur korrupsie en wederregtelikheid. Maar dis ’n ander storie vir ’n ander politieke arena.

Die nuutste gier, sêding of politieke stelling ná al die politieke misdade wat ek vroeër genoem het, is die volgende: “Ons moet...”

Sommige politici en hoofde van ons departemente, arbeidsorganisasies en unies is deesdae baie lief vir die woorde “ons moet...”.

Nou kom ons kyk ’n bietjie na elk van dié woorde op hul eie:

Ons. Wie is hulle, wie is die “ons”?

Moet. Wat beteken “moet” nou eintlik? Dis ’n leë belofte om die massas te paai of ’n poging om hulle te probeer tevrede stel.

Dis ’n vae hoop dat dinge eendag sal verander, want dit “moet” nog gedoen word. Daar word egter geen tydraamwerk gegee nie. So, eintlik is dit maar net ’n onbepaalde donker tydperk sonder enige hoop.

En dié woordjies gee woordvoerders amper die reg om aan te hou om korrup en onbevoeg te wees.

Suid-Afrika word stadig maar seker finansieel droog gemelk deur diegene wat hulle skuldig maak aan politieke misdade en beloftes wat nooit tot voordeel strek van ons hier op voetsoolvlak nie.

En ons kan sien hoe staatsentiteite misluk en van tyd tot tyd moet oorleef op aalmoese van die staat.

Dit is amper soos ’n Ponzi-skema op ’n baie groot, landwye skaal. En om nasionale bankrotskap te vermy, sal ons moet...

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters