4 maande gelede
Lloyd begaan weer dieselfde denkfout
JASON LLOYD  ~ 

Basil Kivedo van Kuilsrivier skryf:

Skynbaar het Jason Lloyd nie Heindrich Wyngaard se regstellings op ’n vorige skryfsel van hom ter harte geneem nie. In Son op Sondag (1 Julie) se rubriek Blog Jou Ore maak hy sowaar dieselfde denkfoute en veralgemenings.

In sy vorige artikels verwerp Jason die etniese klassifikasie vir redes wat net hy weet.

Diegene wat bruin genoem wil word, is in ’n “Verwoerdiaanse konstruk” vasgevang. Hoe aanmatigend en vernederend! Arrogant, om die minste te sê.

Het Jason bruin mense al gevra hoe hulle bekend wil staan? Ek het!

Jy kan nie iemand etiketteer en hul identiteit vir hulle bepaal nie. Dis ondemokraties en onkonstitusioneel.

Jason, ons tik steeds et­niese boksies op vorms af. Wat tik jy af? Die vorm maak nie vir “Suid-Afrikaner” voorsiening nie.

Jy misgis jou as jy glo net konserwatiewe wittes en bruines uit die NP-dae maak die DA uit. Gaan omsigtiger met die wetenskaplike verifiëring om en laat legitimiteit, betroubaarheid en validiteit jou lei.

Daar is seker meer radikales as dié oor wie jy net kan droom. As bruin mense ’n ideologies etniese party wil stig, is dit hul demokratiese reg. Dit kan nie deur jou oordeel bepaal word nie.

Het jy nie miskien ietwat van ’n identiteitskrisis nie? Ongemaklik in jou eie vel? En belangriker, Jason: Solank as wat ras ons politieke landskap domineer, kan jy jou maar rustig ’n “nierassige politiek” verbeel. Sela.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters