14 dae gelede
Lewe op ou proefplaas hel
Plaas
Foto ter illustrasie  ~ theo jeptha

Richard Helfrich skryf (verkort):

Vir 20 jaar lewe die gemeenskap van byna 60 lede op die Citrusdal-proefplaas in onsekerheid.

Nadat die Landbounavorsingsraad (LNR) die plaas in 1996 gesluit het, leef die bewoners sonder toegang tot water, krag en sanitasie.

Party, van wie talle oudwerkers van die LNR is, woon al 50 jaar op die plaas, wat steeds in staats­besit is en deur die LNR bestuur word.

Die DSA, ’n stigting sonder winsbejag gemik op die ekonomiese bemagtiging van die gemeenskap, het onlangs ingegryp en ’n klag teen die LNR by die SA Menseregte­kommissie ingedien.

Luidens 30 beëdigde verklarings borrel rou riool daar op en moet die bewoners se vullis op die plaas verbrand word.

Hulle moet kos op oop vure ­berei en doen weens die omstandighede allerlei maag- en longsiektes op.

Die plaas is onveilig, maar veral snags omdat daar geen lig is nie.

Die departement van landbou in Elsenburg en van landelike ont­wikkeling en grondhervorming in Clanwilliam weet van die situasie.

Hulle is bereid om te help mits die LNR die eiendom verkoop of ’n huurkontrak aangaan.

Themba Maluleke van die departement in Clanwilliam het al met die LNR gepraat, maar dié is afsydig.

Die LNR weier om die grond te verkoop of die regte van die be­woners daarop te respekteer.

Met die stigting van die Citrusdal-proefplaas Gemeenskapsprojek, ’n NPO, wil die gemeenskap beheer neem oor sy omstandighede.

Die bewoners vorm reeds verskeie koöperasies op die plaas om te help om landbouproduksie te stimuleer en werk te skep.

Enigiemand wat wil help, kan Willem Williams, die voorsitter van die NPO, bel by 083 952 3772.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters