4 maande gelede
Laaste stasie vir die soustrein
Soustrein stop hier: Geen wonder hulle noem dit ’n “voting station” nie ...Foto: CITY PRESS  ~ 

Stadsjaap skryf:

JA-NEE, die stemme is in die bus en nou kan ons agteroor sit en nóg vyf jaar kla terwyl al die fake beloftes úit die bus val.

Of dalk kom die bus se wiele sommer heeltemal af...

Wat vir ’n stelsel is demokrasie in 2019 as ’n lekker leuen ál is wat vereis word om stemme te kry? Dis mos nou pleinweg onverantwoordelik! Partye belowe free education, free huise, free alles. Waarvoor wié moet betaal?

Die staatskas kan nie vir alles pa staan nie. Die soustrein loop klaar op minder fumes as Eskom se dieselgenerators.

Alles wat redelik ongesiens in fire pools en fake diensmaatskappye in kon verdwyn, is klaar weg.

En wat gebeur wanneer die grootste lieg­storie uitkom: dat sogenaamde “wit monopolie-kapitaal” genoeg is om vir alles te betaal? Spoiler alert: Dit is nie!

As korrupte amptenare nóú wil steel, sal die stelery op ’n manier wet gemaak moet word. Soos met onteiening sonder vergoeding.

“Onteien” beteken tog maar “om te vat” en “sonder vergoeding” beteken “sonder om te betaal”. Dis met ander woorde die definisie van “steel”.

Slimmer mense as ek sal antwoorde moet gee – net nie die spul wat tans aan die hoof van Mzansi se politieke partye staan nie!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters