4 maande gelede
‘#JustMen’ verander die speelveld
nou in baxter: Die rolverdeling van #JustMen. Foto: baxter.co.za  ~ 

Rdl. Mark Kleinschmidt van Kenwyn skryf per e-pos:

Nog nooit het ek so uitgedaag gevoel deur ’n teaterproduksie nie!

Ek het gaan kyk na #JustMen. Dis geskryf en vervaardig deur Heinrich Reisenhofer. Sherman Pharo, Johan Baird, Thando Doni en Loukman Adams speel daarin. In die stuk neem mans sterk standpunt in teen die plaag van geweld teen en die mishandeling van vroue en kinders.

Elke akteur gee ’n persoonlike blik op hul lewe en ’n stereotiepe patriargale houding teenoor vroue.

Korrektiewe verkragting is ook ’n plaag. Mense moet ophou om verkragting te normaliseer. Mans moet seker maak die geskiedenis herhaal homself nie deurdat pa’s hul bose gedrag aan hul seuns oordra nie.

Met sokker se Wêreldbeker­toernooi tans aan die gang, is dit gepas dat die akteurs ’n sokkerbal na mekaar aangee as die voorwerp wat hulle verbind terwyl elkeen sy storie vertel. Maar dit dui ook op hoe mishandelaars vroue skop.

Die akteurs beeld die diversiteit in plaaslike kulture uit, maar tog is die onderliggende tema van geweld en mishandeling universeel.

#JustMen is ’n egte storie oor die geweld teen vroue. Die klimaks is die spelers se opregte berou en straf.

Die akteurs belig die groot rol van hul ma, wat deur hul pa en lewensmaats mishandel is. Hulle praat ook oor die sosio-ekonomiese uitdagings van grootword in ’n huishouding met net een ouer.

Die musiek is gepas. Baird se vertolking van ’n gospelliedjie dui op die Bybelse invloede wat mishandelde vroue dikwels gebruik om die trauma te verwerk. Pharo deel weer hoe bendes tieners lok en vertel hoe dit tot ’n soort machismo lei.

#JustMen is ’n nuwe teatergenre en ’n geleentheid vir ware mans om op te staan en hul stem dik te maak.

Ná die stuk is daar ’n vraesessie vir die mans in die gehoor. Ware mans huil wel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters