2 jaar gelede
In die kerk – ’n gedig deur Bernard Fielies
 ~ 

IN DIE kerk waar ek ongemaklik kniel,

soek ek steeds salf vir my sondige siel...

ek kry so koud selfs as die son skyn;

voorheen se vuur het vinnig verdwyn...

ons versuim om vullis uit te vee,

want demone word herberg gegee;

die gebed wat ek opreg bedoel,

word versteur deur ’n vreemde gevoel

’n gespot vat pos in lofprysing,

want in droomland is die ouderling...

die diaken wat wil “orde hou”,

jol nog met die koorleier se vrou

tesourier tel tiendes, niks kan hom skeel,

al het hy nog laas ’n paar rand gesteel;

Sondagskooljuffrou het wild kom word

en haar rokkies is deesdae gans te kort

die moeders se lied kan seer nie stop,

want verdeeldheid duik duidelik op;

die wykskomitee lyk glad nie goed,

ná ’n nagklub se kuier kapoet...

ek staar verstom na die evan­gelis;

sy brandende begeerte is geblus!

die jeugleier wat na nêrens jaag,

se stukkende jeans hang veels te laag;

pastoor kan praat, maar het ophou ploeg,

vir huisbesoek is hy nou te moeg...

behoeftiges besig om te beswyk;

weduwees en wesies misgekyk...

selfs “onder die salwing”, langsaan my

word skinderstories steeds versprei...

ons speel met God soos jaloesie looi;

op hierdie pad nou maklike prooi...

ons praat in tale en val in die gees,

maar liefde wil daar nie altyd wees;

die waarheid sluk ons almal swaar,

skynheiligheid skeur ons uit­mekaar

ag, Here, help en gee weer hoop,

al is landerye kaal gestroop;

beklee ons weer met vroeër se drag, met outydse mantels teen elke mag!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters