3 maande gelede
Heeltyd speeltyd vir MyCiTi-busdrywers
Bus: Die leser meen dit gaan rof.Foto: MyCiti  ~ 

Voetganger skryf:

Mense, wat gaan deesdae met die Kaap se kleurryke MyCiTi-busse aan?

Jy moet omtrent versigtig wees wanneer jy oor ’n pad met ’n pienk busbaan loop, want een van daai rooi-en-blou busse ry jou dalk net te pletter!

Terwyl ander motoriste (meestal!) by die spoedgrens van 60 km/h in die stad hou, vlieg baie van dié busse belaglik vinnig om draaie en jaag oor rooi verkeersligte en voetoorgange (sodat voetgangers moet hol!) asof dit niks is nie.

Dit blyk dat MyCiTi-busdrywers daarop uit is om elke dag soveel moontlik verkeersreëls te oortree. En hulle blyk daarin te slaag.

Nóg iets wat opmerklik is, is dat talle van dié busse in die namiddag in Kaapstad se hoofstraat tot stilstand kom.

Dis asof ’n groot lot MyCiTi-busdrywers hul siësta hier vanaf 15:30 vat. Hulle sit in hul busse, speel op hul fone, staan buite en gesels of rook en kyk jou vuil aan as jy dit waag om in hul rigting te kyk.

Die manne huiwer nie om op die Stad se sebrastrepe te parkeer of hul busse waar ook al te laat idle nie – wat dit natuurlik baie onaangenaam vir voetgangers maak. Talle motoriste voel seker dieselfde.

Nou wonder ek hoe party van die MyCiTi-passasiers daaroor voel om ín daai busse te ry – bid hulle ook by tye vir hul lewe?

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters