3 maande gelede
Die jeug moet moeite doen vir werk
Werk is belangrik vir die jeug.  ~ Unsplash

P. Alberts van Humansdorp skryf:

Ek skryf hierdie brief in die lig van Jeugdag wat gister gevier is.

Almal kla gedurig so en maak die regering die sondebok omdat ons jeug so sukkel om werk te kry.

Glo my, daar is werk daar buite. Dit hang van daai jong man of vrou af om ’n bietjie moeite te doen.

Julle het geld om grênd klere te koop, smart skoene te dra en die nuutste selfone te hê, maar julle kla julle kry nie werk nie.

Vat daai geld waarmee julle daai duur klere en selfone so koop en stel vir jou ’n CV op; gaan na ’n internet-kafee en mail dit na plekke waar jy moontlik ’n werk kan kry.

Andersins, klim in ’n taxi en maak soos ons in die ou dae gemaak het deur van besigheid tot besigheid te gaan om werk te soek.

Ek dink ouers moet ook hul kinders wat matriek geslaag het en so by die huis leeglê, aanmoedig om werk te gaan soek.

Hoe langer ouers hul kinders gaan instop met duur klere en smart selfone, hoe minder gaan daai kind lus kry om vir hom of haar ’n werk te gaan soek.

Die lewe is duur en daai dae waar jong mense so op hul ouers se nek lê, is lankal verby.

Kospryse styg elke dag. Kyk hoe duur is petrol.

Jeugdiges, doen julself ’n guns en gaan soek werk sodat julle ook ’n sin van verantwoordelikheid kan leer.

En ook sodat julle vir jul ouers kan sorg wat hul vingers stompies vir julle afgewerk het en dit steeds doen.

En as jy sukkel om aan die gang te kom met die job hunting, gaan klop aan om hulp by ’n gemeenskapsleier of iemand in die kerk.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters