2 maande gelede
De Lille is selfsugtig om aan mag te klou
Patricia de LIlleFoto: WIKIPEDIA  ~ 

Busisiwe Langa van Khayelitsha skryf:

Ek voel ons het nou werklik genoeg gehad van die Kaapse burgemeester, Patricia de Lille.

Dié storie sleep nou al maande lank voort en die mense van Kaapstad ly daaronder.

Hoe kan die publiek nog enige vertroue in haar hê?

Sy het steeds nie ’n reguit antwoord gegee op die vraag of sy daardie SMS aan me. Limberg gestuur het om ’n paneel se besluit te beïnvloed nie.

En daar is bewerings dat sy haar vriend se dogter­ ’n werk gegee en ander amptenare in die Stad gehelp het om korrupsie toe te smeer.

Hierdie is alles ernstige bewerings, so ek neem die DA nie kwalik dat hy dit wil laat ondersoek nie.

As hy dit nie laat ondersoek nie, dan is die party mos net so erg soos die ANC.

En as burgemeester De Lille hulle wil probeer keer om dit te doen, maak dit haar net so erg soos oudpres. Jacob Zuma.

Ek voel die DA-regering het nog altyd goeie werk in Kaapstad gedoen, maar burgemeester De Lille bedreig dit nou alles.

Sy moet die inwoners van Kaapstad nou bo haar eie belange stel en bedank sodat dié beweringe ondersoek kan word.

Dit is selfsugtig van haar om aan die mag te bly klou terwyl sy weet die DA-stadsraad het teen haar gestem en dat sy lede haar nie meer as burgemeester wil hê nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters