2 maande gelede
DA ‘het plan teen misdaad’
tragies: Irvinisha Brooks (12) is deur bendes doodgeskiet. Foto: THEO JEPTHA  ~ 

Nqaba Bhanga, DA-premierskandidaat in die Oos-Kaap, skryf:

Die onlangse toename in geweld in die Northerns is ’n bewys dat die falende ANC en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) heeltemal beheer verloor het en geen plan het om die mense van die Northerns te beskerm nie.

Daar is in die verlede berig dat 80% van die mense wat in die Nelson Mandelabaai woon, bang is om hulle huis te verlaat as dit donker raak.

In die Northerns is dit veel erger, want in hierdie geweld- en bende­geteisterde gebied is dit nie eens veilig om buite te wees as die son skyn nie.

Om die waarheid te sê, in die Northerns is inwoners nie eens veilig in hulle eie huise nie, want misdadigers bars by deure in en moor en rand aan sonder enige nagevolge.

Onlangs is ’n 12-jarige meisie in Bloemendal doodgeskiet toe sy in strydende bendes se kruisvuur beland het.

Kort daarna is ’n driejarige seun ernstig gewond toe gangs in Helenvale op mekaar begin skiet het.

Hoewel die polisie verdagtes aangekeer het, behoort voorvalle soos dié glad nie plaas te vind nie.

Die Northerns het in ’n war zone verander en die inwoners word deur vrees regeer. Die DA is daartoe verbind om geweldsmisdade in alle gemeenskappe uit te roei.

Die falende ANC-regering het oor ’n tydperk van 25 jaar bewys dat hy nie die misdaadprobleem in die land kan fix nie. Terwyl jaarlikse misdaadstatistieke aanhou styg, maak die ANC net leë beloftes.

Die DA het ’n plan om ’n eerlike en professionele polisiediens te skep.

Nou is die tyd om op te staan en hard en duidelik te verklaar dat ons nie meer sal toekyk hoe ons kinders en familielede sinloos vermoor word nie.

Nou is die tyd om op 8 Mei in die nasionale verkiesings vir die DA te stem.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters