Verlede maand
Xenofobie gaan nie jou lewe verbeter
 ~ 

ONS land het nou maar eenmaal die kuns bemeester om van een krisis na die ander te strompel.

Skaars is ons terug in die lig nadat Eksdom ons vir die soveelste keer in donkerte gehul het, toe tref dit ons weer eens soos ’n vuishou in die gesig. Xenofobie.

Dis een van Suid-Afrika se dodelikste siektes en dis veral Afrikane wat hierdeur geraak word.

Ons broers en susters het ons grense oorgesteek met net ’n paar besittings wat hulle op hulle kop dra.

Dié onwillige reisigers droom van ’n beter lewe in Madiba se reënboogland.

Destyds het menige vryheidsvegter se droom van vryheid in hierdie einste land hulle ook oor Afrika-lande se grense geneem toe die apartheid-regime sy wrede stormtroepe losgelaat het.

En anderkant is ons met ope arms verwelkom voordat ons die tog verder aangepak het.

Dit is hierdie einste lande se burgers wat nou hier by ons ’n toevlug soek.

Wanneer hulle hier by ons aankom, word hulle egter gekonfronteer met die onmenslikste behandeling.

Vir hulle word dit ’n nagmerrie van trying times, crying times en dan dying times.

Xenofobie is nie net ’n misdaad nie, maar ook ’n misdaad teen die mensdom.

En om een of ander rede is veral swart Afrikane en mense met ’n donker gelaat uit Asië die teikens.

Ons broers en susters uit Afrika en Asië het, net soos ons Suid-Afrikaners, die reg en mag om te besluit hoe hulle storie moet eindig.

Die leiers van ons land se prominente politieke partye is invloed­ryke mense.

Dié moet leer om hulle groot monde versigtig te gebruik, want hulle kan maklik ’n vuur van vreemdelingehaat aansteek.

Oor ’n paar weke gaan die volk stembus toe om ’n nuwe regering te kies.

Ons land is in ’n ekonomiese gemors en die toekoms lyk steeds donker.

Maar steeds beloof politici dat werksgeleenthede geskep gaan word.

Werksgeleenthede en sake­geleenthede is vir baie Suid-Afrikaners maar net ’n droom, terwyl buitelanders vir hulle ’n beter lewe probeer skep.

Hulle is bereid om vir minder geld te werk of die eenvoudigste werk te doen.

Dis iets waarvoor talle Suid-Afrikaners hul neus optrek.

En ’n mens hoor dan verskonings van Suid-Afrikaners van hoe buitelanders oral met dwelms handel dryf en met prostitusie empires bou.

Ja, sekerlik is alle buitelanders nie engeltjies nie en almal is nie hier omdat hulle weens politieke redes uit hulle lande gevlug het nie.

Maar steeds gee dit ons nie die reg om op ’n spree te gaan en hierdie mense genadeloos uit te wis nie.

Ja, die optrede is misdadig, maar die hoofrede is dat Suid-Afrikaners dink ons regering gee meer om vir buitelanders as vir sy eie burgers.

Die prentjie is egter heeltemal anders.

Die meeste buitelanders is werklik op soek na ’n beter lewe hier in ons land.

Hulle geduld word soms tot die uiterste beproef by die kantore van die departement van binnelandse sake wanneer hulle aansoek doen vir vlugtelingstatus, verblyfreg en werkpermitte.

Aan die anderkant is baie Suid-Afrikaners se geduld al op, want die meeste van hulle wag reeds 25 jaar vir ’n beter lewe.

Haataanvalle op buitelanders gaan dit nie laat gebeur nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters