Verlede maand
Verwoerd-les fade, maar verdwyn nie
 ~ 

ONLANGS watch ek op Netflix die satiriese komedie Er Ist Wieder Da, oftewel Kyk Wie Is Terug.

Hitler word uit die dood opgewek en skrik wakker by die plek waar sy bunker was.

Gedisoriënteerd stap hy deur ’n moderne Berlyn en probeer vanuit ’n Nazi-perspektief sin maak van alles.

Sawatzki, ’n YouTuber wat sy werk by ’n TV-stasie verloor het, ontdek Hitler. Die twee deurkruis Duitsland en Hitler probeer steun inwin vir ’n political comeback.

Vir die deursnee-Duitser kom Hitler as ’n baie goeie akteur voor. Vir Hitler het Duitsland verval in dekadensie wat kenmerkend was van die tyd voor die skepping van die Third Reich en immigrante verbaster die Ariese ras. Hitler belowe om Duitsland te “herstel” tot die eer wat dit verdien.

Dan stel Sawatzki hom aan sy voormalige TV-base voor. Hulle besluit om die fascis regstreeks op TV te plaas.

Dinge ontaard in ’n situasie wat met uiterse droë allemanhumor uitgebeeld word.

Ek kon myself skop toe ek die movie ontdek. Jare lank al wil ek ’n kortverhaal skryf soos dié een oor Hitler se wederkoms.

Maar in plaas van Hitler wou ek Verwoerd laat herleef in die sogenaamde nuwe Suid-Afrika.

En ek wou hom laat herleef het by Die Hok, die Hard Livings se plek in Manenberg.

My doel was om Verwoerd heeltemal ontnugter en depressief uit te beeld oor sy apartheidsprojek.

In retrospek is dit ’n goeie ding dat ek dit nie geskryf het nie.

Verwoerd se doel met apartheid was om wit heerskappy te versteen in ’n samelewing waar wit mense oortuig was en met oorgawe geglo hulle is heersers en dat hulle dit in hul optrede teenoor niewittes moes bewys. Oortuig van wit heerskappy en in die uitleef van dié geloof moes niewittes – aan die ander kant – gemaak glo word dat hulle minderwaardig is en daar is om wit mense te dien.

Volgens Verwoerd se apartheid moes die beste van alles aan wit mense gaan, terwyl swart mense en die wit mense se derde stand, soos dikwels na sogenaamde kleurlinge verwys is, met die scraps tevrede moes wees.

Verwoerd se ideaal is reeds in 1652 geskep. Dis nog so lewend en aktief soos die dag toe Jan van Riebeeck alles wat nie Europees was nie as barbaars en heiden beskou het.

Hierdie geloof ondergaan voortdurend gedaantewisselinge en het meer subtiel en onderliggend geraak, maar dit is nog daar.

So, ek wou Verwoerd wys hoe die kettery van wit heerskappy met alle mag uit ons samelewing uit­geroei is, dat demokrasie dit bewerkstellig het dat alle groepe in die land gelyk is en nou die land saam regeer, dat die rykdom van ons land eweredig onder almal verdeel word en dat die landbougrond verdeel word onder dié wat dit bewerk.

Ek wou hom wys die regstelsel ag ryk en arm gelyk, dat universele menseregte erken word, dat werkloosheid, moord, roof en misdaad iets van die verlede is en dat kennis onkunde vervang het.

Ook wou ek hom wys elke Suid-Afrikaner wat daarna streef, kan universiteit toe gaan, dat elkeen ’n gerieflike dak oor hul kop het en dat vrede en vriendskap die kanker van rassisme vervang het.

Nadat Verwoerd dan wakker geskrik en hom vereenselwig het met sy omgewing, sou hy waarskynlik sy pad gevind het na een van sy nasate agter die boereworsgordyn – of moontlik Kampsbaai – waar hulle dan terwyl hulle cocktails geniet die bespreking sou voortsit oor hoe hulle kan ver­seker wit heerskappy leef voort.

Verwoerd sou nie soos ’n d**s lyk nie; ek wel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters