5 maande gelede
Verkiesings: juju is die gemene faktor
 ~ 

DIT is die jaar 2019.

Die opening van die parlement lok soveel belangstelling soos die dag toe Nelson Mandela sy eerste staatsrede daar gelewer het.

Ál verskil is dat die ANC se Cyril Ramaphosa die president is. En die adjunkpresident? Niemand anders nie as die EFF se CIC, Julius Malema!

Rek die oë? Word in moue gelag? Wel, in 2016 het ek presies hier geskryf – en in dieselfde trant – dat Helen Zille die eerste vroulike president van die land sou wees en Malema haar adjunkpresident.

Twee wiskundige verskynsels kan my voorspellings nog staaf: Die grootste gemene deler (GGD) en die kleinste gemene veelvoud (KGV).

Watter som ’n mens ook al met my politieke voorspellings maak, weet dít: In albei scenario’s is Malema die gemene faktor.

Dit is dus nie vergesog om te voorspel dat Malema die land se adjunkpresident kan word nie, ongeag of die ANC se grondwet stipuleer dat die party se adjunk die land se adjunk moet wees.

Dat die jogging Ramaphosa aan die spits van sake is, sal bydra daartoe dat die ANC se aandele volgende jaar geweldig styg.

’n “Bulmark”, noem die geleerdes dit, maar dit sal hom nog lank nie die 66%-meerderheid bied wat hy nodig het om die Grondwet eensydig te wysig nie.

Die rooi berets het nie eintlik hul eie beleid nie. Nee, wanneer die ANC nies, kry die EFF griep. Want sien, die EFF voer net ANC-beleid uit.

Vat maar die onteiening van grond sonder vergoeding: Wie het dit gepredik? Die ANC natuurlik. Ja, die nasionalisering van myne en banke kan die EFF se volgende deuntjie word, maar wie predik dit van dag een af? Die ANC natuurlik.

Maar dié eise sal die EFF gunstig plaas vir toenemende groei. Veral jong mense en die clever blacks sal vir hom stem.

Sodoende kan die EFF die kingmaker volgende jaar word en dwars staan in die weg van die ANC se 66%-meerderheid. Sonder die EFF, dus, geen 66% nie.

Eintlik is die EFF die militante vleuel van die ANC-jeugliga, veral aangesien Collen “Oros” Maine so soet geraak het dat niemand hom en sy youth meer hoor en sien nie.

In die DA neuk dit so dat hy weliswaar sy politieke Day Zero bereik het. Daar is nie meer ’n Zuma­ wat ge­kritiseer of met hofgedinge gedreig kan word nie. Cyril weet net hoe om die DA te neutraliseer.

Die clever blacks verlaat die DA in hordes. Die werkersklas beskou die ANC as dié van Nelson Mandela en keer ook die rug op die DA.

Die arme DA moet nou eers, enkele maande voor die nasionale verkiesing, vasstel waar hy staan, skadebeheer toepas en uit-figure wie sy leier nou eintlik is – Mmusi Maimane of James Selfe.

En aangesien Soli Msimang vir Athol Trollip gaan troef om voor­sitterskap van die Fedex, sal dit interessant wees om te sien of velkleur wel weer ’n faktor sal wees. Ongelukkig is dit die politiek van die dag...

Waar laat dit die bruin kieser? Die Zoeloes beheer KwaZulu-Natal, daarom sal Zuma se invloed daar nooit geneutraliseer kan word nie, nie eens met Shaun Abrahams se vervolging nie.

Maar in die Wes-Kaap, waar die bruines die meerderheid is, is die “wit minderheid”-DA in beheer – waarom?

Waarom kon die bruines deur die eeue heen dit nie regkry om nie­rassige seggenskap oor die Wes-Kaap te hê nie?

Waar laat dit aktiewe, erkende bruin leiers vir die verkiesing? Waar laat dit die Khoi-groe­pering?

Waarom nie once and for all ’n umbrella organisation stig nie? Die soektog het begin.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters