3 maande gelede
Verkiesing vir die verkleurmannetjies
 ~ 

SOOS ’n verkleurmannetjie op ’n Smartiesboks... só lui die spreekwoord.

Miskien is dít hoe die deursnee-kieser in Suid-Afrika oor 2019 se naderende verkiesing voel. Want sien, dis tyd vir kruisies trek.

Dis glad nie meer so maklik om te kies tussen die swart-geel-groen van Buffalo Soldier, die rooi van commander-in-chief Malema, die blou van Moesie-my-money (het ek iewers op sy gholfhempie nie ook die colours van die Rastas – rooi, groen en geel – gewaar nie?), asook die kleure van die kleiner partye soos die rooi van Icosa, die groen van die PA of selfs die animal print van die Khoisan nie.

Verstaan julle nou waarom kiesers so verward soos ’n verkleurmannetjie op ’n Smarties-boksie is? Dit gaan beslis neuk in 2019.

Eers het die kiesers gedink Ramaphoria gaan die comrades weer in hul duisende na die ANC laat terugkeer. Maar ongelukkig sny dit na twee kante. Aan die een kant raak Matamela gewild by kiesers wat nie ANC gaan stem nie, want hy gaan die WMC red. En die poorest of the poor voel afgeskeep en verwaarloos.

Die ander kant van die munt is dat Matamela en die CIC nou so hand om die blaas nie eens ’n windjie tussen hulle kan laat deur waai nie. Mama Winnie het mos hoeka die sign gegee dat hulle twee – Cyril en Julius – saam op ’n balsemtog na Marikana moet reis om die balsem van Gilead aan die wonde van die Marikana-weduwees te gaan smeer.

Terug na Mama Winnie. Nog nooit het iemand se dood soveel verdeeldheid en eenheid insgelyks gebring nie. Die lovers van die freedom struggle het behoorlik ’n geveg opgesit oor wie die naaste aan Mama was.

Tóg reken ek sy was ’n unifier. Maar CIC sien net rooi as hy aan die woord is. En nie eens die onteiening van grond sonder vergoeding kan mense nader hark nie, want die Moesie se Blou Huis try ook ’n counter hiervoor vind.

Die CIC se rooi het darem ’n goeie stemwerwer gekry met dié dat Solidariteit hom privaat wil vervolg. Dis soos ’n rooi vlag voor ’n bul.

Ons het nou koelkoppe nodig, nie koolkoppe nie. Laat die verkleurmannetjie die regte kleur aanneem wat die land dan tot voordeel sal strek.

Oor na die Blou Huis met die Rasta colours op die skouers: Moesie is die swart leier wat nie self kan optree nie. Daarvoor tree Selfe net te prominent na vore.

As die blou golf gedink het hy gaan sy Vision 2019 op die spreekwoordelike skinkbord kry, het hy self sy kanse beduiwel met dié dat hy Antie Pat ’n blou oog gegee het.

Die bruin kiesers is briesend. Hoe die bruin verkleurmannetjies gaan verkleur, sal ons nog wil sien. Hulle is maar ’n wederstrewige volkie. Wag die rooi van Icosa of die groen van die PA vir hulle?

Of wat van die samesprekings tussen die Icosa en PA? Of gaan hulle weer die ANC se groen-swart-geel aanneem? Of gaan die EFF dalk net die uiteindelike voorkeur van diegene wees?

Die arme kieser-reptiel is waarlik kleur-confused. Dit beteken net een ding: Alle colours – lees politieke partye – sal hard moet spook om te verseker die verkleurmannetjie neem die regte kleur aan.

Ja, die reënboognasie het dalk net ’n reënboog-verkleurmannetjie nodig. Oorlat ons miskien weer opgeskeep gaan sit met koalisie-politiek.

Dalk ’n koalisie van verskillende kleure so volksvreemd soos die DA en die EFF, soos die ANC en die DA of soos die EFF en die ANC.

Of gaan die kleiner partye weer die kingmakers wees soos in Madiba se Baai?

Gaan dit nou om die verkleurmannetjie of gaan dit dalk om die takkie waarop dié reptiel sit?

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters