Verlede maand
Swart rugby in ou S.A. kort erkenning
 ~ 

DIE gebrek aan erkenning vir legendariese swart sportlui, bruines en sogenaamde “Africans”, is ’n saak waaroor steeds groot ontevredenheid bestaan.

Dit het byvoorbeeld verlede jaar opgevlam met die dood van die legendariese Saru-speler, boeta Salie­ Fredericks.

Ook was dit die afgelope twee weke prominent in die debat oor Ashwin Willemse, wat van die SuperSport-stel gestap het ge­durende ’n paneelbespreking.

Willemse het dit gedoen uit protes­ teen die neerhalende gedrag van sy (wit) mede-ontleders.

Dié week is olie op die vuur gegiet toe Johann Maarman in reaksie op dié voorval die afskaffing van die Springbok as nasionale rugby-embleem in Die Burger bepleit het.

Of hy en ander uitgesproke All Black-ondersteuners hulle agter die span sal skaar as die Bok “geslag” word, is nie genoem nie.

Sy rubriek het ons almal nietemin herinner aan die ooreenkoms van eenheidsvorming in 1992.

Dit was tussen die ou Sacos-ge­affilieerde Saru en die ou SA Rugby­raad (waarby die bruin SA Rugbyfederasie en swart SA Rugby­assosiasie ingesluit is).

Onder meer is ooreengekom dat die Springbok – wat almal eintlik maar in een of ander vorm in die verlede gebruik het – as nasionale embleem behou sal word en dat álmal se geskiedenis erken sal word.

En dáár lê die ding! Of anders gestel, dis waar SA Rugby (nou Saru), soos hulle sê, “ge-slice” het.

Dié kwessie was deel van ’n onderhoud oor die Willemse-debat wat Charl Williams en Peter Da­niels van Radio KC in die Paarl laas Saterdag met my gevoer het.

Ons het byvoorbeeld gepraat oor die gewoonte van rugbykommentators om wit spelers se skole en pa’s se name te noem, maar selde dié van “onse boytjies”.

En ek moet bieg, tot Damian Willemse se onderhoud met Mari­zanne Kok in Rapport verlede week het ek nie geweet hy en die Stormers se Ramone Samuels is broers nie.

Maar heeltyd hoor ons van die Du Preez-broers – Robert, Jean-Luc en Daniel – die seuns van my destydse Blou Bul-held, Robert.

In my boek Bursting Through the Half-gap (2017) oor die eerste bruin Springbok, Errol Tobias, haal ek aan uit die sporthistorikus dr. Hendrik Snyders se akademiese artikel “Beyond the Springbok and Ikhamanga – The Untold Story of South Africa’s Black Rugby Exiles”.

Snyders skryf onder meer oor die vals op­vatting dat geen ge­vestigde swart rugbynalatenskap bestaan nie en die chroniese skaarsste aan boeke oor ikoniese swart rugbyhelde.

Benewens Half-gap was daar nog net:

  • Forgotten Heroes deur Manie Booley oor veral oud-Saru en Moslem-spelers;
  • Chester, wat Chester Williams se biografie is;
  • Suiwer Goud, Tobias se outobiografie;
  • Rugby Changed My World, Willemse se outobiografie;
  • Tries and Conversions deur Snyders en Peter Lush oor spelers wat oorsee gaan speel het.

Dis waarom SA Rugby se aankondiging dié week dat hy beoog om ’n A-Z van swart rugby saam te stel, verwelkom moet word.

Die steeds “versteekte” geskiedenis van spelers wat vir Saru, die (bruin) Federasie en (“African”) Sara gespeel het, sal opgeteken word en in die rugbymuseum The Springbok Experience (TSE) by die V&A Waterfront in Kaapstad uit­gestal word.

Verhale en foto’s vir dié “ensiklopedie” moet gestuur word na Snyders, die TSE-erfenisbestuurder, by hendriks@ sarugby.co.za.

Dié is ’n gap wat ons eenvoudig móét vat!

  • Wyngaard bied Sondae 19:30 die program KLOP! op Kyk­NET & kie (DStv-kanaal 145) aan.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters