10 maande gelede
SAKP nou ontbloot as ’n ANC-parasiet
Marchers flooding the streets of Braamfontein, Johannesburg. (Nation Nyoka, News24)  ~ 

Die SAKP, wat soos ? parasiet op die rug van die ANC ry, het onlangs uiteindelik sy dreigement uitgevoer dat hy voortaan op sy eie aan verkiesings sal deelneem.

Dié lafhartige dreigement was voorheen egter nooit ’n ware dreigement nie omdat hy altyd net die waters getoets het om groter invloed op die ANC uit te oefen.

Toe misgis Nzimande hom heeltemal deur pres. Jacob Zuma in die openbaar aan te val.

Dít volg nadat die skynheilige Nzimande in 2007 in Polokwane instrumenteel was in die verkiesing van Zuma as ANC-president op die ANC se nasionale konferensie.

Nou is Nzimande voor in die koor deur Zuma oor korrupsie en staatskaping te verwyt. Hy vergeet gerieflik dat hy saamgesweer het om oudpres. Thabo Mbeki as staatshoof te verwyder.

Nzimande het onlangs so gemaklik geword dat hy Zuma by elke openbare geleentheid kaalvuis gepak het. Zuma het keelvol geword en Nzimande as minister van hoër onderwys afgedank.

Die vet was in die vuur. Gevolglik het Nzimande en sy makkers soos adj.min. Jeremy Cronin hul ou dreigement uitgevoer deur die ANC in die onlangse raadsverkiesing van die Metsimaholo-munisipaliteit in die Noord-Vrystaat teen te staan. Dié munisipaliteit bestaan uit dorpe soos Sasolburg, Oranjeville en Deneysville.

Dis die eerste keer sedert 1994 dat die SAKP op sy eie aan ’n verkiesing deelneem en hy het 3 setels gewen. Die ANC het 16, die DA 11 en die EFF 8.

Die raad gaan heel waarskynlik deur ’n koalisieregering geregeer word omdat geen party ’n volstrekte meerderheid het nie.

Die Sasolburg-verkiesing dui op drie werklikhede. Dat die alliansie tussen die ANC en SAKP seremonieel is – wat glad nie werk nie. Trouens, daar is nie eens meer ’n werksverhouding tussen hulle nie.

Tweedens dui dit op die irrelevansie van die SAKP. Nzimande is, soos Tim du Plessis dit stel, ’n “verstreke entiteit”. Die steun wat die SAKP in die verkiesing gekry het, is hoofsaaklik van ontevrede ANC-lede in Sasolburg wat teen die ANC se provinsiale voorsitter, Ace Magashule, en Zuma-makkers gekant is.

Kiesers het nie noodwendig teen die ANC gestem nie, maar teen Magashule en Zuma.

Derdens is die SAKP en ANC oor die jare bymekaar gehou deur hul gemene deler – om apartheid te beveg. Apartheid is nie meer op die wetboeke nie. Hul saambestaan bestaan dus nie meer nie.

Die SAKP het sy oorspronklike idee, om vir die belange van werkers te veg, ook verloor. Dis strydig met die doel vir die stigting van dié party in 1921 as die Kommunistiese Party van Suid-Afrika (KPSA).

Die georganiseerde werkers­beweging het tot in 1921 net uit wit werkers bestaan. Die KPSA is dus in 1921 gestig om swart werkers te verteenwoordig. Dié stigting het die politieke landskap verander en in 1953 is die party se naam na die SAKP verander.

Die SAKP van vandag is ’n heel ander party as in 1921, 1953 en 1994. Sy leiers dra Gucci suits en is closet-kapitaliste. Daar is eintlik nie kommuniste in die SAKP oor nie. Trouens, kommunisme bestaan nie eens as ’n staatsbestel in Suid-Afrika nie, want ons het ’n grondwetlike demokrasie, wat opposisiepartye toelaat.

My advies aan die SAKP is om aan die 2019-verkiesing deel te neem om kiesers ’n kans te gee om finaal af te reken met opportuniste soos hy.

  • Jason Lloyd is ’n politieke ontleder en rubriekskrywer.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters