8 maande gelede
Politici vorm saam ’n sieklike subkultuur
 ~ 

EK HET ’n teorie dat spesifieke subkulture deur sekere siektes geraak word. Die tienergroep word erg geraak deur arseholitis en retardinitis.

My twee tienerdogters weier om toe te gee dat dié siektes bestaan. Ek is oortuig sielkundiges gaan dit binnekort ontdek.

Dié siektes is sterk gekoppel aan tegnologie. Die simptome wissel van ’n wasige blik wanneer hulle aangespreek word tot godsonmoontlike gedragspatrone wat net beskryf kan word in terme van liggaamlike openinge.

My dogters meen weer ek is lid van die oumens-subkultuur en ly aan siektes soos repeteer-geweer-itis, waarvoor hul reaksie gewoonlik is: “Ja, ek het Pa die eerste keer gehoor.”

Die ander siekte in die oumens-subkultuur is ek-verstaan-nie-tegnologitis. Só meen my dogters.

My teorie stop egter nie daar nie. Ek glo vas dat dié tipe siektes aansteeklik is. Omdat jy as individu in jou subkultuur rondbeweeg, is dit onvermydelik dat jy aangesteek sal word. Tot dusver is daar geen genesing nie.

Dié tipe siektes is eintlik skadeloos, behalwe wanneer dit by die subkultuur van politici kom. Die regerende ANC is besig om die land en sy mense duur te kos.

Siektes in die politici se subkultuur wissel van ontfutselitis of pilfer-it-itis, soos dit in Engels bekend staan. Dan is daar help-myself-ten-koste-van-die-belastingbetaler-itis, of glo-vas-die-mense-het-dom-gekom-itis. Dié is drie van die mees algemene siektes.

Dié siektetoestande is heersend in die ANC – soos comrade Gwede Mantashe dit self noem. Dit begin ook sterk aanwesig raak in die DA. Sommige politieke kommentators verwys al na die DA as die ANC-lite.

’n Internet-soektog na sekere voorvalle wat gekoppel kan word aan siektes van dié aard lewer interessante resultate op. Dis verbasend hoeveel DA-lede sedert 2014 tot nou – ’n periode van groei vir die party – betrokke was by voorvalle van bedrog.

Die bedrog wissel van die bou van huise tot bedrog ten opsigte van lewensversekering. Een burgemeesterskomiteelid in Johannesburg is onlangs afgedank nadat sy van haar familie op ’n amptelike oorsese trip Spanje toe geneem het op die belastingbetaler se onkoste.

Die onlangse verkiesing van die provinsiale DA-bestuur in Gauteng is geskend deur aantygings dat afgevaardigdes – en luister nou mooi – met skoene omgekoop is om vir ’n sekere kandidaat te stem.

Die DA se onlangse provinsiale leierskapsverkiesing in die Wes-Kaap is erg geskend deur beweerde ongerymdhede.

Factionalism is altyd met die ANC geassosieer. Die DA in die Kaapse metropool het sy eie sage van factionalism wat daartoe gelei het dat ’n mini-Nkandla ontbloot is waaraan die burgemeester, auntie Pat, gekoppel word.

Die issue rondom die mini-Nkandla het te doen met die sekuriteit-opgradering by die burgemeester se huis. Die piempers was na verneem word lede van auntie Pat se eie party. Sy maak geen geheim daarvan nie dat sy glo sy word “ge-target” oor sy “pro-poor” is.

Die persepsie is dat die DA gou optree ten opsigte van bedrog. Die party is aan die groei. Dit beteken meer lede word aangesteek en meer ongerymdhede kom voor.

Die party kan hom in ’n posisie bevind waar hy groei, maar dat sy getalle dan weer verminder weens hierdie persepsie.

Die Spaanse filosoof José Ortega y Gasset sê: “A revolution only lasts fifteen years; a period which coin­cides with the effectiveness of a generation.”

Hy’t natuurlik nie van Mugabe geweet nie.

Dit lyk asof die ANC die bus gemis het ten opsigte van José se woorde; asof die DA iets in werking moet stel as hy nie die bus wil verpas nie. En ander partye het nog tyd vir aksie. Hopelik is daar genesing in sig!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters