Verlede maand
Partye het weer jou kruisie op die bruin
 ~ 

VERKIESINGSTYD is maar ’n tyd van diepe worsteling vir bruin mense. Veral die Kaap.

Daar is mos die ewigdurende debat oor die sogenaamde identiteit van die bruines. Mens, as jy nóú nog nie weet wie jy is nie ... wie wil djy wies? Voeg in dié fruit salad van menswees nog die gedagte dat daar nie bruines bestaan nie. Dan hoor jy die Jim Reeves van die Wes-Kaap sê álle mense is bruin. Wittes is glo ligbruin en swartes is donkerbruin.

Terug na die realiteit. Dis verkiesingsjaar en ’n beduidende getal bruin mense worstel innerlik daaroor of hulle moet stem of nie. En indien wel – vir wié?

Want sien, as minderheidsgroep in die Nuwe SA word bruines al 25 jaar gemarginaliseer. Teen die kop gekyk, soos hulle op die Kaapse Vlakte sê. En die oomblik as bruines hulle bruinwees celebrate, word hulle as rassiste uitgekryt.

Maar as dit verkiesing is, word die bruines skielik erken en ter wille van kruisies word daar ’n skietstilstand met hulle gesluit. At least tot ná die verkiesing, wanneer politieke partye hulle doelwitte behaal het en bruin mense nie meer benodig word nie.

Misbruik en uitgespoeg. Só voel baie bruin mense wat vir die groter partye stem. As hulle maar net hulle beloftes gestand gedoen het ...

Politieke partye in alle kleure sal weer die balsem van Gilead aan die wonde wil kom smeer. Met WhatsApp promises en Fakebook-leuens. Dis genoeg om die verkiesing net ’n verkniesing te maak!

Bruin mense is glo nie bruin nie, maar deel van die hele Suid-Afrikaanse nasie. En vreemd genoeg het die regerende party by monde van sy Wes-Kaapse strukture uit die bloute laat hoor: “Bruin mense moet ook werk kry.” Ai, jinne, dit klink dan nou soos Rip van Winkel wat ná jare se slaap wakker geskrik het? Bruines sukkel dan al amper 25 jaar om hulle regverdige deel van die koek te kry! Bruines mag bruin wees, maar hulle is nogal nie verkiesing-dislekties nie, hoor?

Stem moet daar gestem word. Want met of sonder bruines se stem sal daar ’n regering gekies word. Djy kommie mettie lag as djy daar innie stemhokkie met djou pen of potlood staan nie.

Ongelukkig is daar ’n magdom partye wat beweer hulle staan vir die regte van bruin mense. Sogenaamde bruin politieke partye. Van die main peanuts innie pakkie is die Patriotic Al­liance, Gatvol Cape­tonian, Icosa, Aitsa, Ampo en die Khoisan Revolution.

Good krap ook sake deurmekaar. Die ANC en DA moet die ontstaan van dié partye op hulle brood smeer. Want deur bruines te reduseer tot houthakkers en waterdraers het die saadjie van bruin bewustheid – anders gestel, gemarginaliseerde minderheid – ontkiem.

Ironies genoeg is eenheidsgesprekke ’n illusie, want almal wil die leier wees. Met of sonder raadslede of ’n gevestigde brand. Dalk sal alle gemarginaliseerdes – bruin, Indiër en wit – weer hulle kruisie trek langs die naam van ’n party wat reeds suksesvol aan verkiesings deelgeneem het.

Bruin mense suffer. Hulle suffer aan die hand van politieke partye wat bruines se bestaan wil wegwens, ondanks ’n uitstekende grondwet.

Die 2019-verkiesing moet ’n kruispad vir bruines wees – ’n waterskeiding.

Kan die ouer, groter partye nog ’n kans gegee word met Bosasa, die Guptas, Zuma en antie Pat se boelies en al? Kan ’n kieser nog so naïef wees? Ja, daar is die stoere ondersteuners wat besluit het hulle klou vas tot die dood hulle skei.

Maar daar is ook diegene wat met die kruisie in die hand pleit vir ’n nuwe bedeling vir bruines.

Laat ons egter nooit vergeet ons woon in ’n lewendige demokrasie nie. Die keuse is die kieser s’n ...

Mag die beste party wen.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
2 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters